Die selfoonreuse  MTN en Vodacom vat Okosa vandag hof toe oor die kommunikasiereguleerder se planne om selfoonbeëindigingskoerse te verminder.

Die twee ondernemings het  die hooggeregshof in Johannesburg dringend versoek om te verhoed dat die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) ’n regulasie oor selfoonbeëndigingskoerse instel.

Beëindigingskoerse is die fooie wat ondernemings mekaar vra wanneer oproepe tussen hulle gemaak word.

Die koerse sal na verwagting op 1 April in werking tree. MTN en Vodacom wil hê die hof moet die regulasie permanent skrap.

Die twee sê Okosa se pogings om die beëindigingskoerse vir 2014 vir hulle op 20 s vas te stel en op 44 s vir die ander is op verskeie gronde onwettig.

Een van die gronde is dat daar irrasioneel op die bedrag 20 s besluit is en dat die koers van 44 c, wat vir die kleiner spelers bedoel is, nie op koste gegrond is nie.

Okosa se hoofargument is dat die koers verbruikerskoste verhoog het en Suid-Afrika een van die duurste plekke maak om ’n selfoon te gebruik.

Die nasionale reguleerder sê die koers van 20 s is regverdigbaar volgens ’n onafhanklike kenner en dit was nie die koste wat die berekening van 44 s bepaal het nie.