“Hul skedel en brein ontwikkel nog en die bestraling van selfone ‘kook’ so te sê hul brein,” het prof. Michael Herbst, Kansa se gesondheidshoof, gesê.

Kinders het ’n dunner skedel en dit absorbeer meer bestraling as dié van ’n volwassene.

Dr. Devra Davis, die hoof van die Environmental Health Trust, ’n groep epidemioloë van die wêreld oor, sê: “Handelaars probeer alles in hul vermoë om toestelle bekostigbaar te maak, en ouers val oor hul voete om dit te koop. Maar die nuwe fone word gemeet aan ou standaarde vir modelle en ou aannames oor hoe dit gebruik moet word.”

Studies in Europa het bevind die beenmurg van kinders absorbeer 10 keer meer bestraling as ’n volwassene s’n, terwyl die brein self twee keer soveel absorbeer.

“Kansa ondersteun hierdie waarskuwings (van die gesondheidsfonds),” het Michael gesê. “Die Suid-Afrikaanse publiek is nou betrokke met tegnologie, maar blyk nie van die inherente gevare te weet nie.”

iPads bevat byvoorbeeld antennas wat bestraling afgee en moet nie direk teen die liggaam gehou word nie, maar kinders se arms is nie lank genoeg om dit op die regte afstand te hou nie. Babas speel met selfone en ma’s praat op die toestelle terwyl hulle borsvoed.

Aangesien ’n moontlike siekte eers lank ná blootstelling opduik, word die gevare nie ernstig opgeneem nie, het Michael en Devra gesê.

“Ons kan in die toekoms beslis ’n toename in die voorkoms van breinsiektes sien,” het Michael gesê.

Bron: Times LIVE