As jy moeg is van lang, ingewikkelde wagwoorde en altyd sukkel om dit te onthou, het ’n nuwe app ’n eenvoudige oplossing vir jou: Gebruik sommer jou selfie as wagwoord.

Volgens Time.com kan jy met FaceCrypt jou foon programmeer om jou gesig te herken: Neem bloot ’n foto van jouself wanneer jou foon ’n wagwoord verlang.

Maar wees gewaarsku: As jy die foto in swak lig neem of mans dalk intussen ’n baard of snor gekweek het, sal die app nie jou gesig herken nie en jou toegang tot jou foon weier.

Kritici het al uitgewys dat enigiemand ’n gebruiker van FaceCrypt se foon kan steel en die gesigherkenning kan fnuik deur ’n foto van die gebruiker teen die foon se skerm te hou en toegang daartoe te kry.

Maar, sê die vervaardigers van FaceCrypt, slinkses moenie te gou opgewonde raak nie: Spesiale veiligheidsmaatreëls kan gebruikers vra om hul oë te knip om seker te maak dit is die gebruiker self en nie ’n foto nie.

Die app is op 23 November uitgereik en kan nog net op ’n iPad en iPhone gebruik word.

– Christiaan Boonzaier