Uit die verslag, wat verlede week bekendgemaak is, blyk dit ’n GoPro-kamera wat teen die Cessna 150K se instrumentpaneel vas was, is nie in die ongeluk beskadig nie. Opnames daarop toon die vlieënier en ander passasiers het herhaaldelik foto’s van hulself met hul selfoon geneem en selfs die flits gebruik tydens talle kort vlugte in die ure voor die ongeluk op 31 Mei.

Al was daar geen video van die rampspoedige vlug nie, maak bewyse van die vlieënier se selfoongebruik vroeër daardie dag dit waarskynlik dat selfoongebruik tot sy disoriëntasie en beheerverlies bygedra het, het die ondersoekers bevind.

Eric Weiss, ’n woordvoerder van die ANVVR, het Dinsdag aan Associated Press gesê een van die agentskap se prioriteite vanjaar is om die aandag te vestig op die gevare van verskeie afleidings, of dit nou in die lug of op die grond is.

“Selfies is noodwendig afleiding,” het Eric gesê, en bygevoeg vlieëniers word aangeraai om aktiwiteite en gesprekke te beperk tot hul taak wanneer hulle voor die kontroles is.

Die ongeluk in Mei het gelei tot die dood van die vlieënier, Amritpal Singh (29), van Aurora, en sy passasier kort nadat hulle van die Front Range-lughawe in Adams County opgestyg het vir ’n nagvlug. Die wrakstukke is in ’n koringland sowat 1,6 km wes van die lughawe gekry.

Die lykskouerskantoor van Adams County het die passasier Dinsdag uitgeken as Jatinder Singh (31), van die Indiese deelstaat Pandjab.

In Indië het die konsertpromotor Deepak Bali Woensdag gesê Jatinder Singh, ’n sintetiseerderspeler van Jalandhar wat deur sy vrou en twee kinders oorleef word, het saam met die gewilde Pandjabse sanger Manmohan Waris deur Amerika gereis.