Vroeër is berig al verwerk vroue mislukte verhoudings moeiliker as mans, kry hulle dit tog reg om eindelik met hul lewe aan te gaan. Nou is bekendgemaak vroue help die heelwordproses met splinternuwe metodes aan, en selfies is heel boaan hierdie lys.

Een uit drie vroue neem, volgens ’n onlangse ondersoek, mooi foto’s van haarself sodra die verhouding verby is. Hulle beskou dit blykbaar as ’n goeie versterker vir hul selfvertroue. Een uit elke 12 vroue voer sake ’n stappie verder en verkies om foto’s te neem waar hulle hul lywe in bikini’s rondswaai. Die gedagte is om hul eks te wys wat hy prysgegee het.

Die modewebtuiste shopa.com, wat die studie laat doen het, voer aan dit wys selfies verander heeltemal hoe mense verbrokkelde verhoudings verwerk. Volgens die kommunikasiereguleerder Ofcom het Britte verlede jaar ’n duiselingwekkende 1,2 biljoen selfies geneem, en jong vroue was die produktiefste. Trouens, 37 persent van dié deelnemers het gesê hulle hou daarvan om selfies op onder meer Twitter of Instagram te plaas omdat dit hul selfvertroue ’n hupstoot gee. Boonop lyk dit of dieselfde vir bekendes geld; Perrie Edwards (22) se sosialemediaprofiele het gewemel van die foto’s van haarself nadat sy en die voormalige One Direction-lid, Zayn Malik (22), uitgemaak het.

Selfies neem is egter nie die enigste manier waarop mense hartseer verwerk nie. Drie uit vyf van die vroue wat ondervra is, het erken hulle gee kledingstukke uit hul eks se klerekas weg om sodoende hul skielike status as enkellopende te verwerk, en 42 persent van die mans het ook hierdie paadjie gevolg.

Tweeduisend mense het aan die ondersoek deelgeneem en daar is ook na geliefkoosde selfies gekyk. Heel boaan die lys was skoene, en foto’s van trou- en aandrokke was volop.

As dit jou beter laat voel om foto’s van jouself te neem terwyl jy ’n verbrokkelde verhouding probeer verwerk, doen dit, maar moet liewer nie te afhanklik word van aanlyn kommentaar nie. Net soos sommige mense daarvan hou om mense op die sosiale media te prys, is daar ander wat lief is vir kritiseer – nou nie eintlik iets wat jy nodig het wanneer dit voel of jy tussen die vloer en die politoer is nie. In moeilike tye is dit veel beter om eerder by jou familie en vriende ondersteuning te soek. Gebruik die sosiale media net vir dit waarvoor dit bedoel is: ligte, pynlose pret.

© Cover Media