Durban – Nicci Redelinghuys, ’n student, het Donderdag ontken sy het selfies geneem terwyl sy bestuur het en dat dit net ’n “onskuldige, privaat grappie” is wat skeefgeloop het. Die foto’s, waarin sy blykbaar poseer het, het die woede van padveiligheids- en gemeenskapaktivisgroepe laat toeneem toe dit vinnig versprei.  

Die byskrif van die omstrede foto lees: “So yesterday I was driving on the N3 trying to take a selfie. lol. I kept looking at the camera and forgetting to watch the road! But I guess I finally got it kind of right! I still look scared as s***.”

Haar pa het Donderdag aan News24 gesê dat sy gehok is nadat hy haar foon en motor afgevat en haar sosialemediarekeninge gesluit het. Maar Nicci het ’n verklaring uitgereik op haar Facebook-profiel waarin sy reageer op die “sosialemediawoede”.

’n Les is op die harde manier geleer

Haar pa het Donderdag aan News24 gesê dat sy gehok is nadat hy haar foon en motor afgevat en haar sosialemediarekeninge gesluit het.

“Ek het besluit om formeel te reageer op die mediawoede oor dit wat ek op Facebook geplaas het. Ek glo dat ek groot skade veroorsaak het en ’n les is op die harde manier geleer,” het sy gesê.

“Vandag wil ek graag my kant van die storie vertel sodat alles duidelik gemaak kan word. Ek was nie regtig besig om te bestuur toe ek die foto van myself geneem het nie.

“Soos wat die meeste van julle opgemerk het, is my foto’s geneem terwyl ek stilgestaan het en ek was nie op die N3 nie. Ek weet my optrede was verkeerd en as ’n 20-jarige het ek nie geweet hoe om te reageer op die sosialemediawoede as om myself te verdedig nie.

“Ek vra verskoning as ek enige skade gedoen het. My bedoeling was nie om voor te kom as ’n onverantwoordelike meisie nie en dit was net ’n onskuldige privaat grappie met my vriende”, het sy gesê.

Sy het almal gewaarsku wat dit oorweeg om haar glips na te naboots. “Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir my optrede en ek vra die publiek om my asseblief te vergewe.

“Ek moedig mense ook aan om nie dieselfde te doen nie omdat ek niemand hierdie soort sosialemediawoede en kwetsende woorde toewens wat ek vandag beleef het nie.

“Ek wil graag my pa verskoning vra omdat hy hierdie saak moes hanteer en betrokke moes raak. Hy doen so baie vir my en vir die gemeenskap, en ek voel ek het hom in die steek gelaat.

“Dis my enigste verklaring en ek sal nie reageer op enige vrae of oproepe wat hieroor gaan nie. Ek vra Suid-Afrika en my familie weer verskoning,” het sy gesê.

News24