Foto: @ParisJackson, Twitter

1. Paris Jackson (15) het kriptiese boodskappe getwiet voor sy haar lewe probeer neem het. Dit sluit in: “Ek wonder hoekom is trane souterig?” Omstreeks middernag het sy woorde uit die Beatles-liedjie Yesterday aangehaal: Yesterday/all my troubles seemed so far away/now it looks as though they’re here to stay. Volgens berigte is Paris in die vroeë oggendure op ’n draagbaar by haar huis in Calabasas in Kalifornië uitgestoot nadat die nooddienste ontbied is.

2. Paris het in ’n onderhoud op Oprah’s Next Chapter vertel hoe kinders by die privaat skool wat sy bywoon haar spot en gesê sy het ook al onder kuberboelies deurgeloop.

3. Sy het onlangs haar verhouding met haar biologiese ma, Debbie Rowe (54), herstel. Debbie was vanaf 1996 tot 1999 met haar pa, Michael Jackson, getroud. “Wanneer ek saam met my ma is, het ons nie sekuriteitswag by ons nie. Dis nogal lekker,” het sy onlangs aan die Britse koerant Mail on Sunday gesê.

4. Volgens berigte het haar selfmoordpoging enkele ure ná ’n uitval oor ’n Marilyn Manson-konsert by die Gibson-amfiteater plaasgevind. ’n Bron het aan TMZ vertel Paris het “’n vloermoer gegooi” toe sy verbied is om die konsert by te woon. Sy het skreeuend na haar kamer gehardloop en die deur toegeklap. Paris het na bewering ’n oordosis geneem, maar daar was glo ook verskeie snyplekke aan haar polse. Haar ma het op Entertainment Tonight bevestig dat die tiener inderdaad haar lewe probeer neem het en gesê sy het “die afgelope ruk baie dinge deurgemaak”.

5. Op 25 Junie is Michael Jackson reeds vier jaar oorlede. Hy is dood toe Paris net 11 was.

6. Paris is ’n onafhanklike jong dame. Sy het opgestaan teen haar ouma Katherine en geweier om die Jehovasgetuies-geloof te volg. “Paris het dit verpes om as ’n Jehovasgetuie van deur tot deur te gaan, al was dit wat haar ouma wou hê,” vertel ’n bron. “Daarom het sy ’n paar maande gelede vir Katherine gesê sy gaan dit nie meer doen nie – en sedertdien het Paris en haar broer Michael dit nie weer gedoen nie. Paris voel sy is ’n grootmens en hoewel sy nie haar waardes prysgee nie, wil nie sy vir die res van haar lewe van deur tot deur as ’n Jehovasgetuie gaan nie.”

7. “Sy het haar eie doelwitte en drome. Sy wil werk aan haar akteursloopbaan, hou van kitaar speel en sou graag in haar pa se voetspore in die popwêreld wou volg,” het ’n bron aan Radar Online gesê.

8. Sy en haar tante Janet Jackson het verlede jaar in die openbaar ’n uitval gehad. Janet het glo Paris se selfoon probeer afvat, haar geklap en geskree: “Jy is ’n bedorwe klein t**f.” Paris het Janet glo teruggeklap en gesê: “Dit is ons huis, nie die Jackson-familie se huis nie. Gee pad!”

9. Paris het op 31 Mei ’n tuisgemaakte video van 20 minute op YouTube gelaai waar sy aanhangers wys hoe om grimering aan te wend. In dele van die video dans sy, beantwoorde SMS’e en praat oor algemene tienerdinge.

10. Sy het die afgelope paar maande verskillende skoonheid- en voorkomsveranderinge ondergaan. In Februarie het sy haar hare geknip en donkerder gekleur en in Mei het sy met ’n rooi haredos gespog.

Bronne: Twitter, digitalspy.co.uk, mirror.co.uk, celebrities.ninemsn.com, hollywoodlife.com

- Deur Faiza Mallick

Lees meer hier: 

Paris Jackson se selfdoodpoging