Die minister van binnelandse sake in die gebied, Joachim Herrman, het bevestig dat dit ’n selfdoodbomaanval was. Niemand buiten die 27-jarige is dood nie, maar twaalf ander is wel beseer, van wie drie ernstig. Die ontploffing het net buite ’n musiekfees plaasgevind. Na wat berig word het die oorledene, wie se naam nog nie bekendgemaak is nie, twee jaar gelede na Duitsland gekom vanaf die oorloggeteisterde Sirië en aansoek gedoen om asiel. Sy aansoek is egter van die hand gewys.

Tog laat Duitse wetgewing nie toe dat asielsoekers teruggestuur word na lande waar oorlog woed nie, daarom kon die man in Duitsland aanbly. Volgens owerhede het die aanvaller se rugsak spykers en skroewe bevat – moontlik ’n manier om soveel skade as moontlik aan te rig. Joachim meen dit is wel nog nie duidelik of die man vanplan was om net homself dood te maak, en of hy ander saam met hom wou doodmaak nie. Die aanvaller was glo bekend aan die plaaslike polisie ná vorige wetsoortredings. Hy het ook al voorheen probeer selfdood pleeg, maar was onsuksesvol.

Joachim het wel bevestig dat hierdie nuuste voorval as ’n selfdoodbomaanval, nie ’n selfdoodpoging nie, hanteer word. Die moontlikheid dat dit ’n Islamities-geïnspireerde aanval was, word ook nie buite rekening gelaat nie.

Kort na die ontploffing is sowat 2500 feesgangers ontruim.

Hierdie was die vierde gewelddadige aanval in Duitsland die afgelope week. Vrydag het ’n 18-jarige man nege mense buite ’n winkelsentrum in München doodgeskiet. Sondag het ’n Siriese vlugteling ’n swanger vrou met ’n kapmes doodgemaak en twee ander beseer.

Daar is ook berig dat ’n man van Afghanistan verlede week vyf mense op ’n trein met ’n byl aangeval het voordat die polisie hom doodgeskiet het.

Bronne: BBC; CNN; Netwerk24