’n Nadoodse ondersoek het bevestig Madelein Pienaar (28) het wel haar eie lewe geneem. Haar liggaam is ná ’n soektog Maandag onder die Gourits-spoorbrug gevind.

madelein
Sers. Ebraim Kapp, woordvoerder van Kwanonqaba-polisiekantoor op Mosselbaai, het aan Huisgenoot gesê die nadoodse ondersoek is Dinsdag afgehandel en geen misdaad word vermoed nie.

Madelein het ’n brief in haar rooi Toyota Yaris gelos. Ebraim wou nie uitwei oor wat presies daarin staan nie, maar het wel gesê Madelein het aan haar familie geskryf oor haar voorneme om haar lewe te neem.

Madelein, wat op Riversdal gewoon het, is Sondag die laaste keer in haar Yaris gesien. Sy het glo omstreeks halfdrie die middag op dié Wes-Kaapse dorp brandstof in haar motor gegooi.

Haar familie en vriende het vermoed sy sou daai dag na Oudsthoorn, sowat 177 km van Riversdal af, ry om by kenisse te gaan kuier. Sy het egter nooit daar opgedaag nie.

Toe Madelein teen Sondagaand nie gekontak kon word nie, het haar familie onraad vermoed.

Hulle het verskeie inskrywings in die sosiale media gemaak om haar te probeer opspoor. ’n Familielid van Albertinia (48 km vanaf Riversdal) het Maandag rondgery om na haar te soek.

Sy het Madelein se verlate voertuig op die parkeerterrein by die Gouritsrivier-spoorbrug gekry en die polisie ontbied.

Van die brug het hulle die lyk onder op die oewer sien lê.

Huisgenoot het vertroulik verneem Madelein het aan depressie gely. Volgens iemand na aan haar het niemand die depressie vermoed nie omdat sy "altyd so 'n borrellende mens was."

'n Ander vriend het bygevoeg: “Sy het ’n moeilike lewe gehad en nadat haar huwelik ’n rukkie gelede verbrokkel het, was dinge soms te erg vir haar.”

Sy word Vrydag ter ruste gelê.

  • Die Gourits-spoorbrug is tussen Albertinia en Mosselbaai geleë. Die spoorbrug is 65 m hoog.