Gee ‘n kamer nuwe oemf, skep ’n nuwe spasie of maak ’n speelding – en vra jou kinders om te help.

Sweefrak

Benodighede

Gereedskap

*Potlood

*Kombinasiewinkelhaak of liniaal

*Skroewedraaier

Materiaal*

300 x 900 mm-houtrak...... R145

2 dekor-hoeksteune van 200 x 200 mm...... (R60 elk), R120

4 x 16 mm-skroewe .......... R18 (pak van 50)

Totale koste...............R283

Stap 1

Plaas die hoeksteun sowat 4 cm van die rand van die kort kant van die rak af.

Stap 2

Sit die hoeksteun met die 16 mm skroewe aan die plank vas.

Stap 3

Maak die rak met skroewe teen die muur vas; maak seker alles is die regte hoogte vir jou kind.

Wenk: Kleur afdrukke van prentjies uit ’n inkleurboek in en sit dit met Washi-plakband teen die muur vas. Dit is sakpas-muurversiering.

Kopstuk van plakband en papiervlaggies

Benodighede

Gereedskap

* Maatband

* Nutsmes

* Snybord

Materiaal*

3-4 rolle Washi-plakband….. (R28 elk) R112,

Washi Tape 2-3 velle plakboekpapier….. (vanaf R15 elk), R45,

Totale koste..... R157

* Kry twee rolle in dieselfde ontwerp vir die kopstuk.

Stap 1

Laai jou kopstuk-ontwerp af by huisgenoot.com. Gebruik die maatband om dit te merk; dit hoef nie presies te wees nie, want met dié tegniek is skewe lyne in die haak. Maak net kolletjies op die verskillende afmetings; jy hoef nie soliede lyne te trek nie.

Kiddies Supplement Decor

Stap 2

Gebruik die Washi-plakband om die kolletjies te verbind wat jy in stap 1 gemaak het.

Stap 3

Sny driehoeke uit plakboekpapier en plak dit met Washi-plakband teen die muur bo die kopstuk vas.

Wenk: Onthou, plakboekpapier het verskillende ontwerpe aan elke kant van die blad; jy kan albei kante vir jou vlaggies gebruik.

In die wolke

Benodighede

Gereedskap

* Skêr

* Spelde

* Naaimasjien

* Nutsmes

Materiaal*

7 viltvierkante in verskeie kleure….. (R3,50 elk), R24,50

1 x 3 mm-houtstokkie…… R2

Totale koste........R26,50

Stap 1

Laai die wolkpatroon af by huisgenoot.com en sny dit uit.

Stap 2

Vou ’n viltvierkant in die helfte en steek die wolkvormpies daaraan vas. Sny dit uit. Herhaal tot jy drie stelle wolkvormpies het. Sny druppels uit die vilt. Jy het sowat 24 druppels nodig.

Stap 3

Stik die wolke toe, maar los ’n gaatjie om dit te vul. Ons het oorskietvilt opgesnipper vir vulsel; jy kan ook watte of kussingopstopsel gebruik. Probeer die twee wolke aan die kante ewe vol maak sodat jou bewertjie gebalanseer sal wees. Werk die opening toe.

Stap 4

Om die stringetjie reëndruppels te maak, moet jy dit aan mekaar vaswerk. Stik eers ’n stukkie verder voor jy nog ’n druppel aanwerk om die stringetjie tussen die druppels te kry. As jy by die laaste druppel kom, trek die gare sodat jy ’n lang stuk gare aan die bokant van die druppels het.

Stap 5

Werk twee stringe druppels aan elke wolk vas.

Stap 6

Sny 36 cm van die stokkie af. Merk die middel en 2 cm van die punte van die stokkie af. Maak kerfies op die merke. Werk gare aan die bopunt van elke wolk vas en maak dit aan die kerfies vas. Maak nog ’n stuk gare vas aan die kerfie in die middel en hang dit op.

*Materiaal beskikbaar by meeste ysterware- of kunswinkels. Pryse kan verskil.

- Shelly Bergh

Foto’s: Misha Jordaan