Selena Gomez kan nie besluit of sy haar op musiek of toneelspel moet toespits nie.

Die 21-jarige sangeres en aktrise, wat tevore al gesê het sy wil ophou sing en op toneelspeel konsentreer, erken sy verander dikwels haar planne oor watter rigting sy wil inslaan.

Selena het gesê: “Ek is ’n vrou, dus kan ek die hele tyd van plan verander. Een dag wil ek net toneelspeel en ander kere wil ek net musiek maak, so dit verander.”

Die brunet is op die oomblik besig met die bemarking van haar nuwe rolprent, Getaway, en al het haar nuwe wêreldtoer, Stars Dance, ook onlangs begin, het Selena bevestig sy het geen planne om binnekort weer haar voete in ’n opname-ateljee te sit nie.

Volgens UsMagazine.com het sy gesê: “Dit is vir eers my laaste album. Ek gaan daarmee toer en dan gaan ek hopelik baie lank net toneelspeel. Ek was al lus om ander dinge te doen, beginnende met (die komedie) Spring Breakers. Ek wou ’n aksiefliek maak (soos Getaway). Ek kon my hare swart kleur; dit het my die geleentheid gegee om op ’n manier iemand anders te wees.”

Dis nie die eerste keer dat Selena daarop sinspeel dat sy van musiek wil wegbeweeg nie.

Sy het voorheen gesê: “Ek wil meer in rolprente wees. Ek is oop vir nuwe dinge.

“Ek het pas ’n aksiekomedie en ’n donker komedie gedoen en toe ’n drama, so ek kon regtige prettige projekte doen wat anders is.”