Selena Gomez het by ’n onlangse vertoning in trane uitgebars.

Almal het gedink sy huil oor Justin Bieber, haar eks (19), maar Selena sê sy het gehuil omdat sy nie toegelaat is om ná die konsert met haar bewonderaars te gaan gesels nie.

Selena (21) het op Woensdag 16 Oktober tydens ’n konsert in New York begin huil. Sy sê dit was omdat sy nie toegelaat is om haar soos gewoonlik saam met haar bewonderaars te laat afneem nie.

Sy het op Instagram by ’n foto van haarself met ’n Brooklyn-T-hemp aan haar trane probeer verduidelik.

Sy het geskryf: “Nog nooit so ’n pragtige vertoning in trane beëindig nie; hulle wou my nie vanaand toelaat om te Instagram nie. Heeltemal gebroke en vies.”

Selena het begin huil toe sy die liedjie Love Will Remember sing. Daar is aanvanklik bespiegel sy het begin huil omdat dit haar aan Justin herinner, maar intussen word geskinder sy en die Britse popster George Shelley van Union J maak nou ogies vir mekaar. Hy het gesê sy is “lieflik”, maar hul besige programme maak hul verhouding moeilik.