Selena Gomez is verlede maand in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem.

Die 21-jarige ster is 5 Januarie opgeneem in die Dawn at The Meadows-herstelsentrum in Arizona. Sy was twee weke in die sentrum, wat mense tussen 18 en 26 behandel wat “sukkel met emosionele trauma, verslawing of albei”.

Haar verteenwoordiger het bevestig: “Selena was vrywillig in Meadows, maar nie vir dwelmmisbruik nie.”

Selena het ’n aan-af-verhouding met Justin Bieber.

Die oud-Disney-ster se vriende en familie het haar aangemoedig om hulp te kry omdat hulle bekommerd was sy hou te veel partytjie.

’n Bron het aan RadarOline.com gesê: “Haar vriende en familie, veral haar ouers, was toenemend bekommerd sy het ’n ernstige probleem. Sy het soms woes partytjie gehou. Hulle wou haar help en het haar aangemoedig om ’n rehabilitasiesentrum te besoek. Ander mense naby aan haar het haar aangemoedig om professionele hulp te kry.”

Nog ’n bron het bygevoeg: “’n Mens moet onthou Selena het ses jaar sonder ophou in Hollywood gewerk. Sy was uitgeput. Selena is intelligent genoeg dat sy verstaan sy moet weer in beheer kom.

“Dit het die punt bereik dat sy uit Los Angeles moes wegkom, wegkom uit die omgewing en die druk van Hollywood; ook van diegene wat ’n slegte invloed op haar gehad het.

“Selena moes kans kry om aan haarself te werk. Sy het besef sy kort hulp.”

Selena, wat glo gereeld dagga saam met Justin gerook het, sou vandeesmaand in Australië gaan toer het, maar het die vertonings afgelas om “tyd aan haarself te wy”.

Dit gaan nou glo goed met die mooi donkerkop.

’n Bron het gesê: “Selena is nou gelukkig en baie gesond, en sy begin selfs al weer werk.”