Op ’n vraag oor of sy gaan ophou sing, het sy geantwoord: “Ja, waarskynlik vir ’n rukkie. Ek wil meer op rolprente konsentreer. Ek probeer my oopstel vir nuwe dinge. Ek het ’n aksiefliek, ’n donker komedie en toe ’n drama gedoen – ek kon dus lekker projekte aanpak wat van mekaar verskil.”

Die brunet het ook ’n bietjie meer verklap oor haar toer en gesê haar grootste prioriteit is om fiks te word vir die energieke danspassies.

Sy het in ’n regstreekse video-onderhoud met die Franse radiostasie NRJ gesê: “Dis my eerste wêreldtoer en ek moet fiks word. Dit was nog altyd my droom om die wêreld plat te toer en om my aanhangers die vertonings te gee wat hulle verdien.

“Daar is nie op die oomblik enige gasverskynings nie. Ek gaan ook tydens die toer meer dans, wat ek nie baie op my vorige toer gedoen het nie, en die kostuums gaan meer detail hê. Ek gaan basies die hele nuwe album opvoer.”

Selena het erken sy het nog nie ’n groep gekies wat haar op die Europese been van haar toer gaan ondersteun nie. “In Amerika het ek Emblem3 van The X Factor, maar ons het nog nie iemand gekies vir die Europese konserte nie. Ek sal graag ’n paar voorstelle wil hoor!”