Wat gaan aan met Selena Gomez? Eers het sy haar ma, Mandy Teefey, en stiefpa, Brian, afgedank as haar bestuurders, en nou raak sy ontslae van al haar pelle? Wel, ten minste op Instagram.

Die 21-jarige popprinses het die oë laat rek toe sy haar nuwe pelle, die werklikheidster Kim Kardashian se sussies Kendall en Kylie Jenner, ophou volg het op die sosiale netwerk Instagram – en dit net dae nadat sy saam met hulle uitgehang het by die Coachella-musiekfees in Indio, Kalifornië.

Die Come and Get It-sanger het boonop alle foto’s van haar met Kendall (18) en Kylie (16) van haar Instagram-profiel verwyder. En dit laat ons wonder: Is hul vriendskap alweer so gou verby?

Dié wat weet, sê Selena is vies omdat die Jenner-susters glo met haar aan-af-kêrel, Justin Bieber (20), begin uithang het – en dit terwyl sy nie by was nie. En toe die tonge begin klap oor sy die sussies die trekpas op Instagram gegee het, het Selena sommer al haar ander A-lys-pelle, soos die country-sangeres Taylor Swift (24) en selfs Justin, ophou volg op Instagram. Praat van desperaat! Selena volg nou niemand op Instagram nie.

Sy het intussen ’n foto van ’n resensie van die R&B-sanger Mary J. Blige se 2007-album, Growing Pains, opgelaai wat die lirieke van haar liedjie Work in Progress (Growing Pains) bevat. Het Selena dalk self “groeipyne”?

Haar ouers, wat sy as haar bestuurders afgedank het, het glo nie juis ooghare vir die Biebs nie. Hulle glo hy is die rede hoekom Selena in Januarie in ’n rehabilitasiesentrum beland het.

Intussen staan haar aanhangers, die Selenators, bankvas agter haar. “Ek wil net vir Selena ’n groot drukkie gee en vir haar sê alles gaan oukei wees,” het een getwiet.

Dalk mis Selena maar net haar liefie, Justin. Dié span tans in Japan uit saam met sy ma, Pattie Mallette. Ons hoop nie daar is alweer drama tussen die twee nie. . .

Lara Atson

BRONNE: HOLLYWOODLIFE.COM, MTV.COM