Selena Gomez sê sy soek ’n ouer kêrel nadat sy verlief geraak het op George Clooney.

Die sangeres (21), wat ’n aan/af-verhouding met die sanger Justin Bieber (19) het, het eens op ’n tyd gesê sy hou van die Percy Jackson-ster Logan Lerman (21). Maar noudat sy ’n sagte plekkie vir George (52) ontwikkel het, wil sy ’n ouer man aankeer.

Toe E! News haar vra op wie sy verlief is, het sy gesê: “Wel, ek het eenkeer gesê Logan Lerman, maar nou is dit George Clooney.”

Selena is onlangs weer saam met Justin opgemerk, maar haar ma, Mandy, en stiefpa, Brian Teefey, het haar aangeraai om van hom af weg te bly, aangesien hulle glo hy kan haar verhouding met hulle en haar babasussie, Gracie Elliot, benadeel.

’n Bron het onlangs gesê: “Hulle het vir haar gesê Justin is ’n slegte ou. Hulle het gesê sy moet hom uit haar lewe skop, anders kan nie hulle of haar babasussie deel van haar lewe wees nie. Almal het gehuil en Selena was verpletter.”

Dit lyk of Justin die pad byster geraak het ná ’n paar gure voorvalle, soos om glo van ’n balkon af op aanhangers te spoeg en by ’n klubgeveg betrokke te wees. Hy het egter al gesê dat sy ma, Pattie Mallette, hom geleer het om hom soos ’n ware heer te gedra wanneer dit by vroue kom.

Hy het gesê: “Ek gaan nie jok nie. Dis pret om jonk te wees, verlief te raak en verlief te wees. My ma het my geleer hoe om vroue reg te behandel, dus geniet ek dit om ’n meisie uit te neem en lekker dinge vir haar te doen.”