Selena Gomez dink Bradley Cooper (38) is pragtig en het gespot hy sal seker ’n beskermingsbevel teen haar kry nadat sy skaars haar opgewondenheid kon beteuel toe hulle ontmoet.

Die sangeres (21) vertel: “Ek onthou ek het hom gesien en my koel heeltemal verloor. Ek het daarna net die pad gevat – iets wat ek gereeld doen. Dit was onwerklik; hy is so pragtig. Ek het vir hom gesê ek is ’n groot aanhanger. Ek sal seker binnekort ’n beskermingsbevel teen my hê.”

Selena, wat ’n aan/af-verhouding het met die sanger Justin Bieber (19), is skamerig wanneer sy mense ontmoet wat sy bewonder en het voorheen verklap sy het “weggehardloop” van die aktrise Jennifer Aniston (44), wat Rachel in die gewilde sitkom Friends was, omdat die ontmoeting haar so oorweldig het.

Sy het gesê: “Ek het van Jennifer Aniston weggehardloop toe sy hallo sê. Ek was vreesbevange, so toe kies ek die hasepad. Ek voel baie skaam daaroor. Ek het nie geweet wat om te doen nie – dis Rachel!”

Selena, wat binnekort haar Stars Dance-toer bekendstel ter ondersteuning van haar eerste solo-album, was net so stomgeslaan toe sy Beyoncé sien optree.

Sy het aan Extra verduidelik: “Ek kan nooit daardie status behaal nie, dis belaglik, maar dit het my aangespoor. Dis iets wat ek graag op haar ouderdom sal wil doen. Sy’s vurig en was definitief die ster van die aand.”