Stel jou voor jy word soggens wakker met die gewaarwording dat jy jou nie kan roer nie.

Dit is die nagmerrie waarmee Susan Knittle-Hunter (67) van Sequim in Washington al amper haar hele volwasse lewe lank worstel. Sy ly aan ’n baie seldsame toestand genaamd periodieke verlamming, en dié vreesaanjaende episodes kan soms ure duur.

Susan, wat grade in sielkunde en spesiale opvoedkunde het en kinders met spesiale behoeftes onderrig het tot haar rare kwaal haar bestaan heeltemal oorgeneem het, moes boonop dekades vir die regte diagnose wag. Dokters het eers gereken sy ly moontlik aan veelvuldige sklerose, fibromialgie, Parkinson-siekte of Charcot-Marie-Tooth se progressiewe spieratrofie. Op ’n kol moes sy selfs hoor dis “alles in jou kop”.

Dokters het eindelik vasgestel wat met haar skort toe sy juis ’n aanval beleef terwyl hulle haar vir ander kwale ondersoek het.

Susan sukkel vandag om ver sonder hulp te stap en moet dikwels ’n rolstoel en soms ’n suurstofmasker gebruik. Haar grootste vrees is dat sy in haar slaap sal sterf aangesien haar toestand ook haar asemhalingspiere beïnvloed.

Lees ook: Kassier reageer ‘perfek’ op blinde outistiese tweeling se uitbarsting

“Dit voel gedurig asof ek ’n koorddans uitvoer,” het sy vertel. Om aanvalle te beveg “moet ek probeer verseker alles in my liggaam is volkome in balans. Ek kan niks in oormaat doen nie. Ek moet seker maak ek kry genoeg slaap en water in en volg hoofsaaklik ’n alkali-dieet, want vetterige, verwerkte kosse kan ’n sneller wees.”

Langste episode: Haar man het gedink sy sterf

Haar langste episode van periodieke verlamming het sewe uur geduur. “Dit was skrikwekkend – my man, Calvin (62), het gedink ek gaan dood.”

Die eerste beduidende teken van haar toestand was toe sy eendag as tiener in ’n kerk inmekaarsak. Sy het as kind ook soms ’n lam gevoel in haar hande en voete ervaar, maar haar nie te veel daaraan gesteur nie.

Maar die aanvalle het in reëlmaat en graad toegeneem, tot sy eindelik amper elke oggend wakker geword het met die nare besef dat sy nie kan beweeg nie.

“Ek kan nie my oë oopmaak nie. My mond is oop . . . Ek kan nie deur my neus asemhaal nie. Ek wil sluk, maar kan nie . . . dus is daar net elke minuut of wat ’n stikgeluid uit my keel,” het sy al so ’n episode in ’n blog beskryf.

Sy is tydens aanvalle wakker en bewus van alles wat om haar aangaan.

“Soms begin ek huil van frustrasie en vrees.”

Susan het gevind konvensionele medisyne kan soms eerder dinge vererger, en haar behandelingsopsies is dus baie beperk. In haar strewe na balans monitor sy ook voortdurend haar potassium- en glukosevlakke, bloeddruk en liggaamstemperatuur.

Lees ook: Verlamde Lindense skoolseun eindelik tuis vyf maande ná duikongeluk

Maar sy probeer intussen ook ander help deur mense in te lig oor ’n toestand waaroor daar nog groot onbegrip bestaan. Sy het ’n steunnetwerk vir lyers geskep en boeke en hulpgidse oor die onderwerp geskryf.

Volgens die Amerikaanse regering se National Institutes of Health veroorsaak periodieke verlamming episodes van spierverswakking en soms abnormale vlakke van potassium in die bloed.

Dis oorerflik en net een ouer hoef die betrokke geen oor te dra. Simptome sluit buiten spierverswakking ook verlies van spierbeweging (verlamming) in. Aanvalle begin gewoonlik in die tienerjare, maar kan ook voor 10-jarige leeftyd voorkom.

Die reëlmaat verskil en sommige lyers ervaar hulle daagliks. Die swakheid of verlamming, meestal by ontwaking of ná slaap of rus, kan in die skouers, heupe, arms en bene en oog-, asemhaling- en slukspiere voorkom. Aanvalle kan deur hoë koolhidraat- of sout-inname en alkohol aangewakker word.

Bronne: perodicparalysisnetwork.com, medscape.com, livingwithperiodicparalysis.blogspot.com, nlm.nih.gov, mirror.co.uk

Lees ook op Huisgenoot.com:

Hierdie groot ballerina vermorsel geykte aannames oor ballet

Wellington treur ná skokdood van geliefde inwoner Winnie Rust

‘Dapper’ sewejarige kap kop oop nadat hy uit bewegende trein gesuig word

Wat broei deesdae tussen Ben en Jen?

Omstrede swemvideo het ouers warm onder die kraag