Die eiendomsagent Todd Kohlhepp wat 'n vrou van Suid-Kalifornië vir twee maande "vasgeketting soos 'n hond" in 'n vraghouer aangehou het, het glo erken dat hy reeds sewe mense vermoor het. Toe die polisie Kala Donderdag gevind het, het daar reeds gissinge die ronde gedoen dat sy moontlik die slagoffer van 'n reeksmoordenaar kon wees.

Lees ook: Vermiste vrou na twee maande gevind ‘vasgeketting soos ‘n hond’
Todd het 10 jaar gelede as eiendomsagent begin werk. Hy besit 'n huis, 2 BMW-voertuie, 'n motorfiets en 'n plot van nagenoeg 39 hektaar in Moore, sowat 130 km noordwes van die hoofstad, Columbia. Dis juis op dié plot waar die polisie vir Kala gevind het. Vir Kala se vriend, Charlie Carter, het dit egter noodlottige gevolge gehad. Die lyskskouer, Rusty Clevenger, het die oorblyfsels wat Vrydag in 'n vlak graf gevind is, Saterdag as dié van Charlie Carver (32) identifiseer.

Volgens wat Kala aan die ondersoekbeamptes vertel het, sou Todd, 'n geregistreerde seksoortreder, Charlie voor haar oë doodgeskiet het. Die paartjie het volgens Charlie se ma, Joanne Shiflet, na Todd gegaan met die idee om die plot vir hom op te ruim.

Charlie se familie is verpletter deur die nuus. Maar hulle bestempel Charlie ook as 'n held omdat sy dood en die feit dat Kala gevind is, verhoed het dat Todd sy beweerde moordlus verder sou kon uitleef.

Kala is intussen uit die plaaslike hospitaal ontslaan en sterk aan by vriende. Todd het homself tydens sy verskyning in die hof impliseer in ander onopgeloste moorde. Vier mense is glo vandag 13 jaar gelede by 'n motorfietswinkel in Chesnee, Suid-Kalifornië vermoor. Die saak was tot nou toe onopgelos. Dit het as die "Superbike-moorde" bekend gestaan. Dié beskrywing en identikit is destyds deur die polisie uitgereik op soek na die persoon wat verantwoordelik was vir die moord van vier mense.

Todd het die polisie gewys waar hy nog twee lyke begrawe het.
Daar word nou gegis of die moorde op Todd se beweerde kerfstok by sewe gaan eindig.
Die owerhede het ook 'n groot aantal wapens en ammunisie, onder meer 'n 9mm-pistool en aanvalsgewere gevind. Dit versterk die vermoede dat Todd wel 'n reeksmoordenaar kan wees. Todd is Vrydag borgtog geweier tydens sy eerste verskyning in die hof. Daar word verwag dat nog klagtes teen hom gebring sal word.

Tydens sy verskyning het dit na vore gekom dat die 45-jarige seksoortreder 'n gewelddadige verlede het wat met seksbehepte fantasieë gevul is.

Toe hy nege jaar oud was, was hy impuslief, plofbaar en met seksuele inhoud behep, het die regter glo gesê.

Hy word ook as iemand bestempel wat nie verander het nie en dat hy sedert kleuterskool sonder ophou aggressief teenoor ander was en besittings vernietig het.

Bronne: usatoday.com, wspa.com, bbc.co.uk, nydaily.com