Dit het alles glo met kontak op ’n aanlyn maatsoek-webtuiste en kletsery vir sowat twee weke begin.

Volgens die Gautengse polisie is ’n 54-jarige man van Sandton van R190 000 beroof, vermoedelik deur ’n vrou wat hom tot ’n seksafspraak sou uitlok.

Die man het die vrou verlede Maandag by die Sunnypark-winkelsentrum in Sunnyside, Pretoria, ontmoet van waar die twee na ’n woonstel in Jorrisenstraat gehaas het vir hul afgespreekte sekskapades.

Volgens kapt. Daniel Mavimbela het die man kort ná sy aankoms by die woonstel van sy klere ontslae geraak.

Sy beplande plesierigheid het egter soos mis voor die son verdwyn toe drie gewapende mans die vertrek binnekom. Een van hulle het ’n vuurwapen in die hand gehad. Een van die drie mans het die man daarvan beskuldig dat dit sy vrou is met wie hy intiem sou verkeer.

“Die verdagtes het die slagoffer se bankkaarte en PIN-kodes geëis. Hulle het hom gedwing om sy bank-app op sy selfooon te aktiveer, waarna nog verskeie finansiële transaksies na bewering gemaak is.”

Die man is na bewering ongeveer vier uur lank in die woonstel aangehou terwyl die verdagtes op ’n inkopietog vertrek het waartydens hulle glo R190 000 bestee het.

Misdadigers in die Sunnyside-gebied is bekend daarvoor dat hulle vroue inspan om mans in sekslokvalle te lei. Dit ontaard gewoonlik in rooftogte of kapings, het kapt. Mavimbela gewaarsku.

“Ons versoek mense om eerder aanlyn maatsoekwebtuistes te vermy of aandag te gee aan die waarskuwings wat daarmee gepaardgaan.”

Bron: News24