Die akteur van The Frozen Ground het die polisie versoek om die stomende foto’s van hom en Christina, die ma van sy 22-jarige seun Weston, op te spoor.

TMZ berig die polisie het die nutsman Richard Orozco in verband met die misdaad in hegtenis geneem. Hy is van inbraak en diefstal aangekla, maar het onskuldig gepleit, en die foto’s is nog soek.

Die foto’s is vermoedelik in April uit Christina se huis gesteel en die skuldige is met vier rekenaars en ’n boks met die stomende foto’s vort. Richard is verlede maand aangekeer en sy borgtog is op ’n allemintige R10 miljoen vasgestel.

Die 49-jarige ster het in 1988 met Christina (46) begin uitgaan en die twee het Weston in Desember 1990 in die wêreld verwelkom.

Nicolas het al drie keer getrou sedert sy verhouding met Christina verbrokkel het.

Hy en die Medium-aktrise Patricia Arquette het in 1995 voor die kansel gestaan, maar is in 2001 uitmekaar.

Nicolas het in Augustus 2002 afgehaak met Lisa-Marie Presley, die dogter van Elvis Presley, maar dié huwelik het net drie maande gehou. Die twee is in November 2002 uitmekaar en hul egskeiding is in 2004 afgehandel.

Die ster is nou met die voormalige kelnerin Alice Kim getroud. Hulle het ’n agtjarige seun, Kal-El.