Dit volg nadat nog ’n vrou beweer het Bill, wat eens ’n geliefde komediant was, het haar seksueel aangerand.

Die NBC-woordvoerder Rebecca Marks het Woensdag gesê die sitkom oor Bill “word nie meer ontwikkel nie”. ’n Woordvoerder vir TV Land het gesê heruitsendings word onmiddellik vir ’n onbepaalde tyd opgeskort. The Cosby Show sou ook deel van ’n sitkommarathon wees.

’n Spesiale program op Netflix oor Bill se skerpskertsery is Dinsdag ook onbepaald uitgestel. Dit volg op toenemende bewyse van Bill se wankelrige loopbaan. Dit was die dag nadat die model Janice Dickinson ook bewerings van seksuele mishandeling teen Bill gemaak het. Dié se prokureur het al die bewerings ten sterkste ontken.

Die bewerings – die nuwes sowel as ander wat ’n dekade gelede kop uitgesteek het – het die 77-jarige se loopbaan swaar getref. Hy was ’n geliefde akteur wat sy loopbaan probeer herleef het. ’n Spesiale skerpskertsprogram – Bill se eerste die afgelope 30 jaar – het 2 miljoen kykers gehad. NBC het in Januarie die aankondiging oor die nuwe reeks gedoen.

Bill is nog nooit weens enige van die bewerings aangekla die. Die gewese staatsaanklaer Bruce L. Castor jr., wat ondersoek ingestel het nadat ’n vrou beweer het Bill het haar in 2004 seksueel aangerand, het Woensdag gesê hy het daarteen besluit om Bill aan te kla omdat hy gemeen het daar is nie genoeg bewyse nie.

“Ek het my mening so geskryf dat die hele wêreld moes weet, ek meen hy is skuldig, maar hy het skotvry daarvan afgekom omdat daar nie genoeg bewyse is nie,” het Bruce gesê.

As Bill tydens die ondersoek nie sy samewerking gegee het nie, “sou ek hom seker in hegtenis laat neem het”, het hy gesê.