Russel van Rooyen (34) is omstreeks 02:00 die oggend op 3 Maart in Kirstenhof, Kaapstad, dood aangetref.

“ADT is bewus van die voorval in Kirstenhof waarby verskeie sekerheidswagte, onder wie een van ons personeellede, betrokke was,” het Adrian Good, ’n bestuurder van ADT, gesê.

“Die polisie het ons volle samewerking met die ondersoek,” het hy gesê.

Volgens kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, is twee mense in verband met die voorval in hegtenis geneem. Hulle het op 10 Maart in die Wynbergse landdroshof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat. Hulle moet weer op 24 Mei in die hof verskyn, het hy aan Huisgenoot gesê.

“Die ondersoek duur voort.”

IOL berig dat Russel ’n leerder aan die Hoërskool Parow was en in 2000 gematrikuleer het.

Hy was onder meer lid van die Springbokke se o. 19-oefengroep wat in 2001 in die Wêreldkampioenskapsreeks vir juniors in Santiago, Chili, gespeel het.