SAM de Jesus druk haar twee middelvingers in die hoeke van haar o?, so asof sy die trane wil terugdruk wat skielik begin loop het.

Dis nou al 130 dae dat haar geliefdes in die kloue is van Somaliese seerowers wat hulle op 25 Oktober naby die Mosambiekse kus op hul seiljag oorrompel het. Van Sam se ma, Debbie Calitz (44), en Debbie se lewensmaat, Bruno Pelizzari (52), was daar in dié tyd geen taal of tyding nie.

Sam, ’n reisagent van Pretoria, hou ’n kalm gesig voor terwyl sy die feite van die drama koel en kalm noem, amper soos ’n inkopielys wat sy voorlees. Maar dis alles net skyn. Wanneer sy vertel haar ma was juis op pad om vir die eerste keer in jare ter see vir Kersfees te kom kuier om haar 18 maande oue Dominic te ontmoet, vloei die trane.

Sy verpoos ’n oomblik, sluk en haal dan diep asem. “Ek maak nog elke dag ’n merkie op my kalender, vandat ons gehoor het hulle is gevat,” sê sy en skud haar kop. “Maar jy raak naderhand afgestomp, amper emosioneel verlam.

"Jy dwing jouself dan om net op die harde feite te fokus, want jy kan nie vyf maande lank elke dag stres en huil en bang wees nie. So jy gaan aan met die lewe, maar elke dan en wan is dit net te veel.”

Dit vreet aan hul families, die swaard bo hul koppe. “Ons ondersteun mekaar, my ma en Bruno se families, maar elke af en toe baklei ons, want die spanning hoop op en soek ’n uitlaatklep. En jy weet nie waarheen om jou frustrasie te mik nie.”

Hulle het, sedert hulle op 1 November verlede jaar die nuus van die Durbanse kuswag ontvang het, nog nie ’n woord van haar ma of Bruno gehoor nie. Hulle is nou net nog twee van sowat 800 vaarders wat deur Somaliërs gevange gehou word in die hoop dat hulle ’n losprys vir hulle sal kry.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 17 Maart 2011