Vingers word in alle rigtings gewys sedert die Springbokke se verpletterende nederlaag teen Japan in hul openingswedstryd van die Rugbywêreldbekertoernooi Saterdag, maar hierdie is beslis 'n nuwe een . . .

Japan het die Bokke oorwin in wat sekerlik die grootste skok van die toernooi van 2016 sal wees.

’n Britse skinderkoerant het met ’n interessante verklaring vir die skok vorendag gekom. Die Daily Star het berig die “Springbok-base” is woedend “nadat ’n plaag van seevoëls hul oefenplanne in chaos gedompel het”.

Volgens die artikel het die seevoëls hul oefensessie voor Saterdag se wedstryd by ’n privaat skool in Sussex se ontwrig. Die meeue het blykbaar neergeduik en “die veld met mis bestook”.

“Ons het honderde meeue op die veld gehad nadat ons die gras gesny het en hulle het ’n vreeslike gemors gemaak,” het Richard Maryan, die opsigter van Eastbourne-kollege, gesê.

’n Plaaslike inwoner, Gregg Jolly, het gesê: “Die meeue is ’n nagmerrie. Hulle duik op jou af net om by jou vis en tjips uit te kom en hulle mis absoluut oral”.

Sedertdien is ’n Harris-valk met die naam George gebring om die seemeeue weg te hou, het die koerant berig.

Bronne: Daily Star, MailOnline, The Mirror, News24