Kort daarna het Sam Kanizay (16) van Melbourne in Australië besef dit is seeluise wat hom so gebyt het, berig The Australian

“Hulle het gate regdeur sy vel geëet en dit het vreeslik gebloei”, het sy pa, Jarrod Kanizay, aan die The Guardian gesê.

Sam het die aand gaan afkoel by ’n strand in die Brighton-omgewing ná hy sokker gespeel het en ná ongeveer 30 minute in die water dié skokontdekking gemaak. 

By die huis kon sy familie nie die bloeding gestop kry nie en het met hom na die naaste ongevalle-eenheid gehaas. Selfs by die hospitaal kon geskokte medici eers teen die volgende middag die bloeding, wat uit klomp naald-grootte gaatjies gestroom het, gestop kry. Volgens The Guardian het niemand daar al so iets gesien nie. 

’n Kundige het aan News.com gesê sulke luise skei ’n middel af wat voorkom dat bloed stol, wat moontlik dié verskynsel verduidelik. 

Die kenners waarmee The Sydney Morning Herald gesels het, was dit ook eens dat dit seeluise moet wees. Daar word bespiegel dat die koue water verhoed dat hy voel hoe die luise hom byt en hoe meer hy gebloei het, hoe meer luise het dit gelok.

Die volgende skok het gekom toe Jarrod teruggegaan het na die strand en ’n net in die see gegooi het met ’n paar stukke rou vleis in. In die net het hy ’n klomp seeluise opgeskep wat aggressief aan die stukke rou vleis gevreet het. 

Hy hoop nou ’n mariene bioloog vat die ondersoek verder, het hy aan The Sydney Morning Herald gesê.

Verder glo hulle Sam sal ten volle herstel. 

  • Daar word etlike jare al gespot met hoe gevaarlik die Australiese see is. Die komediant Dylan Moran het juis in ’n vertoning gesê die see daar is uitsluitlik gevul ‘met diere wat ontwerp is om jou dood te maak’.   

Bronne: The Sydney Morning Herald, The Australian, News.com. The Guardian Australia