Sebastian Vettel, ’n viermalige Formule Een-wêreldkampioen, sê  hy sukkel nog om die ernstige ski-ongeluk te verwerk waarin sy landgenoot Michael Schumacher verlede maand ernstig beseer is.

Michael, ’n sewemalige Formule Een-wêreldkampioen, verkeer in ’n medies geïnduseerde koma nadat hy in die Franse Alpe in ’n ski-ongeluk was.

“Ek was net so geskok soos die ander renjaers,” het Sebastian gesê op ’n nuuskonferensie op die eerste dag van toetse voor die 2014-seisoen in Jerez in die suide van Spanje.

“Ek ken hom my lewe lank en het nog altyd hoë agting vir hom gehad. Ek het hom beter leer ken nadat hy weer aan wedrenne begin deelneem het en ons het gereeld gesels.

“Ons weet nog nie in watter toestand hy sal wees wanneer hy bykom nie, wat aaklig is vir sy familie en vriende.

“Ek is nog geskok, maar hoop ’n wonderwerk gebeur en hy sal weer dieselfde mens wees wat hy altyd was.”

Sebastian het bygevoeg hy het Michael nog nie besoek in die hospitaal in Grenoble nie. Hy het ook, soos Michael se vrou, Corinna, gevra dat die media die gesin se privaatheid in ag neem.

Dokters by die Grenoble Universiteitshospitaal sê sy toestand bly kritiek, maar stabiel, berig AFP. Die uitkoms van die koma is steeds onseker.