Die Latynse aktrise Kate del Castillo het die Oscar-wenner gehelp om sy onderhoud vir die tydskrif Rolling Stone te reël, wat Saterdag (9 Januarie 2016) aanlyn gepubliseer is.

Sean beskryf in die onderhoud sy eerste ontmoeting met die misdaadbaas en vertel hy en sy medewerkers is met hul aankoms op ’n klein lughawe in Mexiko in Oktober ontvang deur van Joaquin se vertroude handlangers. Daarna is hulle na die middel van ’n woud gebring waar die dwelmbaas weggekruip het.

Sean vertel van sy paranoia dat staatsamptenare hom moontlik dophou; Maandag (11 Januarie 2016) het dit uitgekom presies hoe fyn hulle albei akteurs se doen en late bespied het.

Die plaaslike koerant El Universal het 10 foto’s gepubliseer wat geneem is met die sterre se aankoms. Dis glo met ’n lang lens geneem en uit ’n intelligensiedossier van die staat verkry.

Volgens die verslag word Kate dopgehou sedert sy in Junie verlede jaar met Joaquin se prokureurs in Guadalajara beraadslaag het. Die voortvlugtige, wat in Julie 2015 uit die tronk ontsnap het, het glo gevra die aktrise moet help met die vervaardiging van ’n fliek oor sy lewe.

Joaquin is op Vrydag 8 Januarie 2016, ná ses maande op vrye voet, in hegtenis geneem. Amptenare het daarna onthul sy ontmoeting met Sean en Kate het die owerheid hom help vastrek.

Hulle het intussen gesê hulle wil die twee sterre ondervra oor die geheime besoek; Sean het aangedui hy is bereid daartoe.

Sean het Maandag in e-pos-kommunikasie met Associated Press gesê hy het “niks om weg te steek nie” toe hulle hom oor die regering se foto’s uitvra.

Intussen het Denis McDonough, personeelhoof van die Withuis, laat hoor wat hy dink van die geheime onderhoud, maar hy wou nie kommentaar lewer oor of Amerika vir Mexiko met hul ondervraging sou help nie.

“Dit laat ’n hele paar interessante vrae ontstaan, vir hom (Sean) en ander wat by die sogenaamde onderhoud betrokke was,” het Denis aan CNN gesê.

Mexikaanse amptenare beplan om Joaquin aan Amerika uit te lewer waar aanklagte van “dwelms- en wapenhandel, geldwassery en moord in minstens ses state” hom in die gesig staar, berig NPR.com.

© Cover Media

Lees ook:

Sean Penn en Madonna ‘besig om te herenig’

“Dit gaan goed met Sean” ná breekspul met Charlize