“Ek is so dankbaar! Die Here is so groot! Hy het engele op ons pad gestuur,” vertel Charlotte van Niekerk nadat weldoeners haar gehelp het in haar bitter stryd om haar sesjarige, terminaal siek dogtertjie se lewe so gemaklik moontlik te maak.

[caption id="attachment_124635" align="alignnone" width="600"]Charlotte spandeer soveel as moontlik tyd saam met haar kind. Klein Chadé is hier in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Foto: Verskaf Charlotte spandeer soveel as moontlik tyd saam met haar kind. Klein Chadé is hier in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Chadé van Niekerk se verhaal het harte landwyd aangeraak. ’n Emosionele toneel het Vrydagoggend op ’n Kaapse radiostasie se ontbytprogram afgespeel toe die omroeper Ryan O’Connor met Charlotte praat en onthul dat hulle hulp in die vorm van verblyf in Kaapstad en vliegkaartjies tussen Johannesburg en Kaapstad gereël het.

“Ons almal het saam gehuil,” vertel Charlotte.

Die gewilde aanbieder van Kfm Breakfast het ruiterlik erken die trane het geloop. “Ek is self die pa van ’n dogtertjie, wat amper ’n jaar oud is,” vertel Ryan. “As ek moet dink dat so iets met haar kan gebeur . . .”

“Ek het net geweet sy moet hulp kry,” vertel hy aan Huisgenoot.com. “Dit het my hart gebreek. Die lewe is so broos.”

Lees ook: ‘Dokters was oortuig sy gaan nie oorleef nie,’ vertel ma van vroeggebore baba wat vandag floreer

“Wanneer iemand in nood verkeer, is dit my ervaring dat mense gewoonlik na vore tree en help. Daar is soveel positiwiteit in die wêreld,” sê hy dankbaar.

’n Uiters seldsame siekte, visserale miopatie, is op 12 Mei verlede jaar by Chadé gediagnoseer. Dokters het destyds voorspel haar lewensverwagting is net sowat ses jaar.

[caption id="attachment_124309" align="alignnone" width="600"]Klein Chadé is in hierdie stadium stabiel, maar in erge pyn in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Foto: Verskaf Klein Chadé is in hierdie stadium stabiel, maar in baie pyn in die Rooi Kruis-kinderhospitaal. Foto: Verskaf[/caption]

Charlotte is onlangs afgedank omdat haar kind se gesondheid so veeleisend geraak het dat sy, volgens haar werkgewer, nie genoeg by die werk was nie; daarom het sy gesukkel om voor te bly.

Charlotte en Chadé se vyfjarige boetie, Juan-Pierre, vlieg Woensdag na Johannesburg, waar Juan-Pierre by sy oupa gaan agterbly.

Charlotte se saak van beweerde onregverdige ontslag word Donderdag by die Kommissie vir Versoening, Mediasie en Arbitrasie aangehoor. Daarna keer sy na Chadé in die Kaap terug waar dié dapper vegtertjie onder die wakende oog van prof. Alp Numanoglu in die Rooi Kruis-kinderhospitaal opgeneem is.

Klein Juan-Pierre gaan solank by sy oupa woon, want hy word siek en verlang baie, vertel Charlotte. “Hy gaan terug skool toe.”

Lees ook: Vreugde, moed en eindelik trane – alles binne ’n lewe van net ’n paar uur

“Dokters is baie bekommerd oor Chadé se gewig. Sy weeg nou 17 kg, maar dit moet minstens 20 tot 25 kg wees,” sê sy. “Al is sy ses jaar oud, is haar groei soos ’n vierjarige s’n.”

Spesialiste doen verskeie ondersoeke na Chadé se gesondheid en sy word morfien toegedien om die pyn te hanteer. “Die siekte is ongeneeslik. Dokters probeer haar net so gemaklik moontlik maak,” vertel Chadé.

“Ons lewe dag vir dag saam met haar. Ons kan nie sê wat die toekoms inhou nie, maar gee soveel liefde as wat ons kan.”

Chadé het sedert sy sowat ’n jaar gelede gediagnoseer is, al vyf maagoperasies ondergaan. “My kind kwyn weg, dag vir dag. Dis ’n bitter pil om te sluk.”

“Aanvanklik het ek geweier om dit te aanvaar; eers nadat die dokters so intiem met ons gepraat het, het dit ingesink, maar ons glo nog die Here kan ingryp.”

“Ons moet ’n normale lewe probeer lei,” sê Charlotte moedig.

En die toekoms? Drome vir Chadé? “My kind was nog net 17 dae in die skool en die res van die tyd was in en uit hospitale, maar as dit God se wil is, sal ek dat sy gr. 1 oordoen,” sê Charlotte. “Vir eers is haar gesondheid al wat tel.”

Chadé moes baie jonk ’n klein grootmens word toe sy hoor sy is terminaal siek en wat dit beteken.

“Aanvanklik het ons nie alles vir haar gesê nie; later het ek gesê: ‘Jy is ’n baie, baie siek dogtertjie.’”

Chadé het die volle waarheid eindelik by die dokter gehoor.

Haar dapper mamma het vir haar gesê: “Jy moenie bang wees om dood te gaan nie.”

Chadé weet sy is siek, maar sy stem nie met die grootmense saam nie. “Dit is oukei. Julle kan maar sê ek gaan doodgaan, maar ek glo liewe Jesus gaan my gesond maak,” het sy gesê.

Die lewe gaan aan en oor ’n paar weke gaan hulle huis toe. “By die huis behandel ons haar soos die dokter ons geleer het, en wanneer die nood druk, jaag ons (dokter of hospitaal toe).”

Sodra hulle terugkeer na Johannesburg, moet Charlotte skouer aan die wiel sit om werk te kry. In haar vorige pos het sy administratiewe werk gedoen. “Ek kan nie bekostig om by die huis te sit nie. Ek het twee kinders om voor te sorg.”

Ander stories op Huisgenoot.com

Familie verpletter ná ongeluk Afrikaanse sanger eis en sy rekenaar met nuwe musiek van toneel verdwyn

Kyk net watter hartebreker het weer pa geword!

‘My seun, die hamermoordenaar’: verslae ma maak hart oop

Kyk: Man word disnis geslaan glo omdat hy soos die akteur Shia LaBeouf lyk

Hoekom was Karlien van Jaarsveld op ’n drup?