“En sy is baie besitlik oor die kleintjie, hoor. Sy laat nie vreemdelinge naby hom toe nie!” vertel Elsabé Brink hier in haar huis in Pretoria terwyl sy Scooter die Skotse terriër se kop vryf. Die week oue kleintjie, Toeter, maak pompbewegings met sy kop teen Scooter se maag op soek na ’n tepel.

Vir Elsabé, ’n ongetroude prokureur, is die vierjarige Scooter “soos my eie kind”. Vroeg vanjaar het sy gemeen “dis nou tyd om ouma te word” en ’n vriend gevra om sy hond, ook ’n opregte Skotse terriër, Scooter te laat dek.

“Dit was dus darem ’n beplande swangerskap!” sê Elsabé laggend.

Die oggend van 9 April het sy wakker geword van Scooter se getjank voor haar bed. Die enigste kleintjie waarmee sy dragtig was, is doodgebore.

“Jy kon sommer op Scooter se gesiggie sien haar hart is gebreek,” sê Elsabé. “Sy het die hele oggend geloop en tjank op soek na die dooie hondjie wat ek in die tuin begrawe het. Toe besluit ek om vir haar ’n ander baba te kry. Al is dit ’n Deense hond. Enigiets wat kan suig!”

Oproepe na al die dierebeskermingsverenigings in die omgewing het niks opgelewer nie en ná middagete het sy besluit om te adverteer op die radiostasie RSG se aanlyn soekhoekie, Iets vir Iets.

Die omroeper Amore Bekker het toe haar advertensie ook in haar middagprogram, Tjailatyd, voorgelees en binne ’n halfuur het ses luisteraars in die Pretoria-omgewing laat weet hulle het ’n hondjie vir Elsabé.

Een van hulle, Henley Gibhardt, se Yorkshire-kruising het drie dae tevore twee kleintjies gekry.

“Toe ek haar advertensie hoor, weet ek sy is ’n diereliefhebber wat baie mooi na die hondjie sal kyk,” vertel Henley. “Ek het nie twee keer gedink om die SMS te stuur en te sê sy kan enetjie kry nie.”

Op pad om die hondjie te gaan haal, hoor Elsabé ’n inbeller na die Tjailatyd-ateljee se voorstel dat as sy wel ’n kleintjie kry, sy hom “Toeter” moet noem. Hy het verwys na die sanger Nic Stevens se 2008-treffer, Toeter Skoeter.

“En dis toe hoe hy gedoop is!”

Terug by die huis het Scooter nuuskierig aan die nuwe aankomeling geruik, ’n paar draaie geloop en toe kom lê sodat hy kan drink.

“Kyk, dit is nou jou nuwe baba,” het Elsabé vir haar gesê.

En nee, Scooter gaan nie nou gesteriliseer word nie. “Ons wil mos nog eendag ons eie klein Scootertjies hê!”

Toeter en Scooter

Dr. Hannes van Zyl van die Waverley-dierekliniek in Pretoria sê:

“Scooter en Toeter se situasie kom redelik algemeen voor, aangesien honde op instink reageer. Ek weet van baie soortgelyke gevalle waar babahondjies byvoorbeeld spontaan aan ander tewe sal begin drink, of ’n sogende teef ’n kleintjie uit ’n ander werpsel by haar sal toelaat. Hoewel hierdie geval nie uniek is nie, is dit ook nie altyd voorspelbaar nie. Dit gebeur soms dat tewe oor geen spesifieke rede selfs hul eie kleintjies verwerp. Ek dink Scooter is een van daardie maklike tewe met ’n sterk moedersinstink.”

Jaco Hough-Coetzee