Die voormalige Formule Een-wêreldkampioen Michael Schumacher het tekens getoon dat hy besig is om te ontwaak van sy geïnduseerde koma, het sy bestuurder, Sabine Kehm, Vrydag gesê.

“Michael vorder. Hy toon oomblikke van bewustheid en ontwaking,” het Sabine in ’n geskrewe verklaring gesê.

Michael (45) het op 29 Desember by die Franse ski-oord Meribel geval en sy kop teen ’n rots gestamp.

Hy is daarna na die Genoble-universiteitshospitaal geneem en in ’n geïnduseerde koma geplaas.

Tydens hierdie lang, moeilike geveg is ons aan sy sy, saam met die span by die hospitaal in Grenoble, en ons bly vol selfvertroue,” het Sabine bygevoeg.

Volgens Sabine word daar geen verdere detail bekendgemaak nie om Michael en sy gesin se privaatheid te beskerm en om die mediese span in staat te stel om hul werk in vrede voort te sit.

Die Franse aanklaer wat aan die hoof staan van ’n span wat die ski-ongeluk ondersoek waarin die renjaer beseer is, het bevind dat daar geen kriminele oortreding tydens die voorval plaasgevind het nie.

Daar was bevind dat hy eers ’n klip 4,5 m van die rand van die skibaan getref het en toe sy kop gestamp het teen ’n tweede klip 10,4 m weg. Die slag was hard genoeg om sy valhelm te kraak.

Ná die ongeluk is hy hospitaal toe gehaas en het twee operasies ondergaan voor hy in ’n geïnduseerde koma geplaas is.

Die ontwakingsproses is op 30 Januarie begin toe dokters sy medikasie geleidelik begin verminder het.

Formule Een-renjaers en -spanne het gereeld boodskappe en verklarings ter ondersteuning van die voormalige kampioen uitgereik. “Michael, jy is in ons hart; hou aan baklei soos net jy kan,” het die Mercedes-span Vrydag voor die eerste oefenrondte van die Bahrain Grand Prix getwiet.

- SAPA