Dokters en familielede het gister niks oor die toestand van die Duitse renjaer gerep nie. Hy is van Sondag af in die hospitaal nadat hy sy kop teen ’n klip gekap het terwyl hy in die Frans Alpe geski het.

Teenstrydige verklarings is uitgereik oor die snelheid waarteen die sewemalige motorrenwêreldkampioen geski het tydens die tragedie in die Meribel-ski-oord. Hy besit eiendom hier. Volgens ’n bron na aan die ondersoek het die hou teen die klip Michael se valhelm middeldeur laat bars.

Die Ferrari-F1-span, waarvan Michael jare lank ’n lid was, het bekend gemaak hulle sal vandag ’n “stil byeenkoms” voor die Grenoble-hospitaal hou vir die uitgetrede sportman se verjaardag. Hy word in ’n mediese koma gehou.

Jean Todt, ’n voormalige spanleier, was gister langs sy bed saam met Michael se vrou, Corinna.

Hospitaalwoordvoerders en Michael se bestuurder het die pers sedert die ongeluk daagliks op die hoogte gehou. Gister het hulle dit nie gedoen nie en pleks daarvan belowe om net nog kommentaar te lewer wanneer daar iets nuuts is.

Michael het twee operasies ondergaan om bloeding en drukking op sy brein te verlig.

Sy mediaverteenwoordiger, Sabine Kehm, het Woensdag gesê Michael is in ’n stabiele maar steeds kritieke toestand.

Die hospitaal ervaar kwaai mediadruk weens die wêreldwye belangstelling in hul beroemde pasiënt. ’n Oop erf daar naby is in ’n tydelike parkeerplek omskep vir verskeie TV-kanale se satellietpaneelwaens.

Sabine het die afgelope week gesê mense het by Michael se kamer probeer insluip en een het hom selfs as ’n priester vermom.

Die drie mediese professore wat hom behandel, twee neurochirurge en die hoof van die narkose- en waakeenheid, is ook nou in die kollig.

Hulle het op twee perskonferensies verskyn om die jongste ontwikkelings te verduidelik. Al het hulle geweier om te bespiegel oor hoe Michael kan herstel, is hulle dit eens sy ouderdom en fiksheid tel in sy guns.

Michael se ongeluk het tot ’n uitstorting van meegevoel gelei van aanhangers. Hulle is geskok hul held verkeer nou in lewensgevaar nadat hy telkens op die renbaan die dood gefnuik het.

Tog bestaan daar vrae oor presies hoe die ongeluk gebeur het in ’n klein en oënskynlik veilige, baanlose deel van Meribel wat tussen twee ski-hellings geleë is. Die een se moeilikheidsgraad word as “maklik” geklassifiseer en die ander as “gemiddeld”.

Ondersoekers het ’n dossier oor die voorval geopen soos in Frankryk in sulke gevalle die algemene praktyk is. Hulle ondersoek die moontlikheid dat Michael baie vinnig geski het toe hy val.

Maar Sabine het die afgelope week aan verslaggewers gesê die oudrenjaer het nie vinnig geski toe hy val nie.

“Hy het blykbaar ’n klip getref terwyl hy gedraai het. Dit was ’n opeenvolging van ongelukkige omstandighede,” het sy gesê.

Sy het bygevoeg Michael was saam met sy 14-jarige seun, Mick, en vriende toe die ongeluk gebeur.

“Hy het nie vinnig geski nie, want dit lyk of hy ’n vriend gehelp het wat geval het,” het sy gesê.

- Sapa

sapalogo