Die Formule Een-kampioen Michael Schumacher was by sy bewussyn en sy oë was oop tydens sy hoogs geheime oorplasing van ’n Franse hospitaal na ’n instelling in Switserland, berig die Switserse koerant Blick.

Michael Schumacher is Maandag verskuif nadat hy ontwaak het uit ’n koma ná sy ernstige ski-ongeluk in Desember.

Die koerant sê sy oë was meestal oop tydens die rit in ’n privaat ambulans, wat soos ’n operasie van die geheime diens uitgevoer is.

Michael het nie gepraat nie, maar gekommunikeer deur sy kop te knik tydens die reis van 200 km, sê die koerant.

Die ambulansonderneming is nie vooraf ingelig oor die identiteit van hul wêreldberoemde passasier nie en die personeel moes hul selfoon inhandig wanneer hulle met hom in kontak gekom het.

Die koerant berig Michael het baie gewig verloor tydens sy verblyf van 170 dae in die hospitaal in die Franse stad Grenoble.

Die koerant het die Switserse ambulansonderneming opgespoor. Die hoof daarvan, Mathias Volken, het hul betrokkenheid bevestig, maar geweier om nog besonderhede te verskaf.

Die sewemalige wêreldkampioen se woordvoerder, Sabine Kehm, het Maandag die dokters by Grenoble bedank en gevra vir “begrip dat sy verdere rehabilitasie weg van die openbare oog sal plaasvind”.

Die hospitaal waar hy nou behandel word, is een van die bestes in Switserland en bekend vir sy neurologiekenners.

Dit is in die stad Lausanne geleë, naby die blyplek van Michael, sy vrou en twee kinders.