Daar is ’n “geringe verbetering” in Michael Schumacher se toestand, het ’n bron na aan die F1-legende Maandag gesê, agt dae nadat hy lewensgevaarlike beserings in ’n ski-ongeluk opgedoen het.

Michael is steeds in ’n kritieke toestand in die hospitaal waar hy in ’n mediese koma verkeer sedert die ongeluk op 29 Desember in die Franse ski-oord Meribel, waar hy ’n chalet besit. Daar is egter klein tekens van verbetering en sy geliefdes hoop hy sal deurdruk, het die bron wat naamloos wil bly aan die Duitse sportnuusagentskap SID gesê.

Medici wat Michael behandel het, het vroeër gesê hy is in ’n stabiele maar kritieke toestand. “Michael Schumacher se kliniese toestand word as stabiel beskou en hy word gedurig gemonitor terwyl hy mediese behandeling ontvang,” lui ’n verklaring van die universiteitshospitaal in Grenoble.

“Maar die mediese span in beheer van sy sorg het benadruk hulle beskou steeds Michael se toestand as kritiek.”

Die span wat hom behandel, het gesê hulle gaan geen besonderhede oor die 45-jarige se behandeling verstrek nie om sy reg op privaatheid te beskerm.

Franse aanklaers het intussen gesê hulle sal joernaliste vandeesweek oor hul ondersoek na Michael se ongeluk inlig. Ondersoekers konsentreer op die afgetrede renjaer se spoed toe hy geval en sy kop teen ’n rots gestamp het en toe per helikopter na Grenoble gebring is.

– Sapa