Die Formule Een-legende Michael Schumacher, wat in ’n hospitaal in Frankryk lê sedert ’n ski-ongeluk in Desember, het ’n longinfeksie oorwin, het die Duitse dagblad Bild Vrydag berig.

Die koerant het twee dae tevore berig dat Michael verlede week longontsteking opgedoen het, maar Vrydag gesê die infeksie het eintlik vroeër voorgekom en “dié week hou nie meer ’n akute gevaar in nie”.

“Dus het Schumi reeds die stryd teen longontsteking gewen,” het die koerant gesê en die gewilde bynaam vir die 45-jarige Duitse renjaer gebruik.

Michael is in die waakeenheid van die Grenoble Universiteitshospitaal sedert sy ongeluk op 29 Desember by die Alpe-oord Meribel waartydens hy sy kop so hard teen ’n rots gestamp het dat sy veiligheidshelm gekraak het.

Nadat die bloeding en kneusing met ’n operasie verlig is, is hy in ’n kunsmatige koma geplaas en sy liggaamstemperatuur verlaag om die risiko vir verdere skade te verminder.

Michael se woordvoerder het op 30 Januarie gesê die middels wat gebruik is om hom in ’n koma te hou, is verminder met die oogmerk om hom sy bewussyn te laat herwin.

Sy gesin het Donderdag gesê hy “is steeds in ’n wakkerwordproses” wat lank kan neem.