Schabir Shaik, wat voorheen skuldig bevind is aan bedrog, het glo by ’n Durbanse gholfklub ’n gholfjoggie met ’n gholfstok geslaan, het The Mercury Maandag berig.

Volgens die koerant ontken Shaik dit. Shaik en sy dokter, Salim Gaffoor, was drie weke gelede by die Papwa Sewgolum-gholfbaan toe die beweerde voorval plaasgevind het.

Die joggie, wat naamloos wil bly, het die koerant vertel Shaik het hom met ’n wigyster geslaan, met sy gholfskoene (wat spykers aan het) op hom getrap, hom geklap en hom ’n “k****r” genoem. Hy erken hy het Shaik op sy beurt ’n “k****e” genoem.

Gaffoor het aan die koerant gesê Shaik het die joggie net gestamp. Die man was glo ongeskik en arrogant. “Hy maak ’n berg van ’n molshoop . . . dit was niks ernstig nie,” het Gaffoor gesê.

’n Ander gholfspeler het die polisie ontbied. Die joggie is na die Sydenham-polisiekantoor geneem en het daar ’n klag gelê. ’n Polisiebeampte by die kantoor het Shaik se bestuurder gekontak, wat die joggie glo probeer oorreed het om die saak te laat vaar. “Hy (die polisieman) het die telefoon vir my gegee en gesê iemand wil met my praat,” het die joggie gesê. Dit was Shaik se bestuurder, wat op pad was na die polisiekantoor.

Die joggie is so aangehaal: “Die bestuurder het ’n paar minute later daar opgedaag. Hy het gevra wat gedoen kan word om die saak te laat verdwyn. Ek het gesê niks, maar hy het my R500 aangebied.”

Hy het die geld geneem en is daar weg.

In 2011 het Shaik glo ’n joernalis van die Sunday Tribune gewurg en geslaan. Die joernalis het gewerk aan ’n artikel oor Shaik wat gholf speel terwyl hy uit is op mediese parool.

’n Klag is gelê, maar daar was nie genoeg bewyse om Shaik te vervolg nie. Shaik is ’n paar weke later aangekla van aanranding nadat hy glo ’n man ná ’n argument oor parkering by ’n moskee geklap en hom met die vuis geslaan het. Die saak is ook laat vaar.

Shaik is in 2005 skuldig bevind aan bedrog en korrupsie. Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis, maar het net twee jaar en vier maande daarvan uitgedien. Hy is toe op mediese parool vrygelaat.

– Sapa

 Sapa