Scarlett Johansson het aan Romain Dauriac verloof geraak.

Die Under the Skin-ster (28), wat ná ’n huwelik van twee jaar in Junie 2011 van Ryan Reynolds geskei is, gaan trou met die Franse joernalis wat haar sowat ’n maand gelede die jawoord gevra het.

’n Bron naby aan die paartjie het Woensdag die nuus aan People.com bevestig en sê: “Hulle is verloof en gelukkig.”

’n Woordvoerder van die blonde skoonheid wou nie kommentaar lewer nie.

Die twee het in November, nadat gemeenskaplike vriende hulle aan mekaar voorgestel het, begin uitgaan, enkele weke nadat die aktrise en haar kêrel van ’n jaar, Nate Taylor, uitgemaak het.

Scarlett het die afgelope week op die Venesiese Rolprentfees in Italië ’n diamantring gedra.

Sy het in Julie ’n swierige goue robynring gedra, maar vriende het gesê dis nie ’n verloofring nie; net ’n stuk juweliersware.

Gerugte dat die paartjie trouplanne het doen die ronde vandat die aktrise in Februarie in New York saam met Romain (30) met ’n yslike peervormige diamantring aan haar vinger opgemerk is.

Die Avengers-ster het verlede jaar erken dat sy graag sal wil trou, maar dit nie gou wil doen nie.

Sy het gesê: “Ek is getroud toe ek jonk was en dit was ongelooflik romanties en ek het eintlik daarvan gehou om getroud te wees.

“Maar dis anders. Dis moeilik om te beskryf. Vir my beteken dit nie dat ’n mens getroud moet wees om ’n suksesvolle verhouding te hê nie.

“Ek dink nooit aan trou nie. Is dit vreemd? Al keer dat ek daaraan dink, is wanneer mense my vra. Dis werklik nie belangrik vir my nie.”