“Dit gaan goed met ma en dogter,” het Marcel Pariseau Donderdag aan Associated Press gesê.

Scarlett en die Franse joernalis het verlede jaar verloof geraak en die nuus van haar swangerskap het in Maart gebreek. Die ster van The Avengers het onlangs oor die groot veranderinge in haar gesinslewe gesels. “Ek is baie gelukkig. Om verloof te wees is ’n opwindende tyd wat jy moet geniet,” het sy aan die tydskrif People gesê.

’n Woordvoerder vir die Oscar-benoemde aktrise het ten tyde van die verlowing gesê die paartjie is “baie gelukkig”, maar wou nie enige verdere besonderhede oor hul trouplanne deel nie. “Hulle het nog nie ’n troudatum gekies nie.”

Daar is onlangs berig dat Scarlett gesukkel het om haar besige werkrooster met haar swangerskap te balanseer. Die ster van die fliek Lucy het tydens haar swangerskap aan die fliek Avengers: Age of Ultron begin skiet en die druk was glo te veel.

“Scarlett het ten spyte van haar swangerskap hard gewerk. Almal om haar kon sien sy is uitgeput en het vir haar gesê sy moet dit rustig vat,” het ’n bron aan die Britse tydskrif Closer gesê.

“Verfilming het dikwels behels dat sy 12 uur lank op haar voete is en daar is op verskillende plekke verfilm. Scarlett het nie besef hoe moeg swangerskap haar sou laat voel nie, maar sy is baie professioneel en wou niemand teleurstel nie.”

Romain was veral bekommerd en het blykbaar sy verloofde aangeraai om ’n blaaskans te vat, maar sy het glo reeds draaiboeke vir volgende jaar gelees.

“Scarlett het nuwe projekte met Romain bespreek en dit het hom paniekbevange gemaak,” vertel die bron. “Hy wil nie hê sy moet haar onder nog druk plaas nie, en wil net hê sy moet dit rustig vat, haar swangerskap geniet en ’n blaaskans neem wanneer die baba gebore word.”

© Cover Media