Bennie Boekwurm & Karel Kraai - Foto: Nic de Jager.

Onthou jy nog die dae van Liewe Heksie en Haas Das se Nuuskas? In die 70’s en 80's het dié marionette van die SAUK se kinderprogramme diep in menigte Suid-Afrikaners se hart gekruip, maar mettertyd van die toneel verdwyn. Onlangs het ’n bekende poppemeester nuwe lewe in dié geliefde karakters geblaas.

By Hansie Visagie se kantoor in die bekende Kloofstraat in Kaapstad is oral stapels papiere, lêers en sketse van poppe teen die mure. Hy maak verskoning oor die toestand waarin sy kantoor verkeer. Die uitstalling van die CityVarsity-kunsskool waar hy ’n dosent is, Talking Strings, is tans aan die gang en vandaar dat ’n chaos aan die orde van die dag is. Een ding is wel seker - hiér werk kreatiewe breine.

Met sy leesbril op sy voorkop vertel Hansie dat hy en sy kollega, Jo Roets, drie maande gespook het om nege van die marionette te herstel. “Ons pak die restourasie stuk-stuk aan, want dit kos geld en neem baie tyd in beslag. Dit is ’n duur, lang proses. Gelukkig het die Nasionale Kunsteraad vir ’n groot deel van die finansiering gesorg.”

Hoekom het hy besluit om juis nou die marionette te restoureer? “Ek het vroeër by die SAUK gewerk en wanneer mense gehoor het dat ek by die kinderafdeling betrokke was, het soveel gevra, Wat het geword van Mina Moe en Heksie en Sarel Seemonster? Omdat hulle in my pleegsorg was, moes ek bontstaan en verduidelik dat hulle al jare in ’n kluis opgesluit is,” vertel hy nes ’n besorgde ouer. Die marionette is geberg by die Universiteit van Pretoria, waar Hansie voorheen ’n dosent was.

Die oorspronklike marionette het uit lateks bestaan, ’n materiaal wat mettertyd tot niet gaan. “Lateks is ’n organiese materiaal wat wriemel en verwring. Op die ou einde lyk die poppe dan soos ’n rosyntjie.” Hulle is met silikoon vervang om die leeftyd te verleng. Waar hulle kon, het Hansie en Jo die oorspronklike dele, soos die oë, hergebruik. Ná ’n geswoeg en gesweet spog Liewe Heksie, Matewis, Blommie Kabouter, Kwaai Babatjie, Karel Kraai, Sarel Seemonster, Bennie Boekwurm en Mina Moe nou met blink nuwe baadjies.

Hy erken dat hy wel ’n gunstelingpop onder die klomp het. “Vir party raak ’n mens mos maar liewer as vir ander. Ek en Sarel stap al ’n lang pad saam; al 18 jaar lank. Maar ek sou sê my gunsteling is Piet Muis. Hy was die eerste karakter wat vir TV geskep is en ek het TV deur hom leer ken. Ek sou selfs destyds op Maandagaande gaan babysit het sodat ek Haas Das kon kyk, want in daardie tyd het ek nog nie ’n televisie gehad nie.” (Piet Muis was die weeraanbieder in Haas Das se Nuuskas.)

Sy liefde vir poppe kom al van sy jongdae af aan. “Vriende van my ouers het vir die ambassade in Amerika gewerk en so een keer per jaar hier kom kuier. Dan het hulle kinders Barbie-poppe saamgebring. Die verskillende pruike en kostuums het my gefassineer.” Toe daar ’n oorsese marionette-geselskap in Suid-Afrika kom toer het in sy st. 5-jaar, het sy ma hom soontoe geneem. “Ek het al van toe af ’n liefde vir die teater, toneel, musiek en dans gehad. My ma het ook vir my ’n boek, Making a Start with Marionettes, gekoop en ek dink dis maar waar my liefde vir popspeel vandaan kom.”

So hoe lyk die toekoms van die marionette? “Ons hoop om hulle volgende jaar by een van die kunstefeeste uit te stal. By feeste soos die KKNK, Gariepfees en Aardklop. Ons sal nou voorstelle indien en kyk wat gebeur. In die tydjie dat die uitstalling al aan die gang is, was daar seker so tussen 700 en 800 voete al hierdeur gewees. Dit is ’n teken dat mense nog belangstel,” sê hy opgewonde. Hy skryf die gewildheid van die poppe daaraan toe dat hulle goeie ou herinneringe terugroep. “Die karakters is ’n simbool van nostalgie. Hulle is volksbesit.”

- Amber Kriel