“Ná raadpleging met die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het MMSV Productions vandag die kontrak van die stakende akteurs op die SABC1-sepie Generations beëindig,” het ’n woordvoerder, Kaizer Kganyago, in ’n verklaring gesê.

“Die beëindiging volg nadat albei partye gevra het die akteurs moet ná die aanvang van hul onwettige staking terugkeer vir opnames.”

Die 16 akteurs het vandeesweek begin staak.

Die rolverdeling beweer die uitsaaier sowel as die vervaardigers het versuim om beloftes na te kom wat hulle tydens verlede jaar se staking gemaak het.

Hulle is na bewering driejaar-kontrakte beloof, wat hulle nie ontvang het nie.

Hulle wou ook salarisaanpassings hê.

Vroeër Maandag het die akteurs ’n oop brief aan kykers en aanhangers gestuur waarin hulle verduidelik hoekom hulle gestaak het.

Al is die program die gewildste sepie in Suid-Afrika, meen die akteurs hulle word nie dieselfde as ander in die bedryf betaal nie.

“Die SAUK het gesê ons wil uitspattige salarisse hê; dit is eenvoudig nie waar nie. Ons kollegas op dieselfde platform, die SAUK, word baie beter betaal; dit is dus moontlik.”

Hulle het gesê toe hulle in Oktober verlede jaar begin staak, het hulle ’n stel tariewe voorgestel waarteen hulle betaal moet word.

In November verlede jaar het MMSV Productions ingestem om daarby te hou, mits die SAUK ook die voorgestelde normalisering van salarisse ondersteun, het die akteurs gesê.

Die SAUK het gesê hulle het tyd nodig om die voorgestelde tariewe na te gaan en sou in Maart vanjaar daarop terugkom.

“Toe die spertyd in Julie verby is, was daar geen kommunikasie van hulle nie rakende die uitkoms van hul beraadslagings. Daar was geen antwoord op ons navrae nie.”

“Dit het duidelik geraak dat hul versoek vir uitstel bloot ’n vertragingstegniek was. Daar was nooit ’n bedoeling, soos beloof, om die salarisskaal na te gaan nie.”

Kaizer het gesê die SAUK en MMSV Productions het reëlings in plek om Generations se toekoms te verseker.

Van die akteurs wat hul werk verloor het, is Menzi Ngubane, wat die meedoënlose sakeman Sbusiso Dlomo gespeel het, Nambitha Mpumlwana (Mawande), Patrick Shai (Patrick Tlaole), Sophie Ndaba (Queen Ndaba), Seputla Sebogodi (Kenneth Mashaba), Winnie Ntshaba (Khetiwe Buthelezi) en Katlego Danke (Dineo Dlomo).