Gerugte dat die SAUK nie vandeesmaand hul werknemers kan betaal nie is van alle waarheid ontbloot.

Kaizer Kganyago, SAUK-woordvoerder, sê ’n plaaslike koerant het die naweek ’n berig geplaas op grond van finansiële state en “betroubare bronne”, maar volgens hom bestaan daar nie so iets nie.

“Ons het nooit enigiets gesê daaroor dat ons nie salarisse gaan betaal nie,” sê hy.

Hy sê wel daar is ’n vermindering in advertensieverkope oral in die media en omdat 85% van die SAUK se inkomste uit advertensies is, is hul inkomstestrome onder druk. Om dié rede moet die uitsaaier sy reserwes gebruik vir uitgawes.

Luidens ’n nuusverklaring is die SAUK se grootste inkomstebronne advertensies en borgskappe (85%) sowel as TV-lisensies (12%).

Kaizer sê die wêreldwye en plaaslike ekonomiese marktoestand het ’n negatiewe impak op advertensieverkope en borgskapinkomste in Suid-Afrika. “Adverteerders het sedert Oktober 2015 hul advertensiebegrotings stelselmatig begin besnoei. Dit beïnvloed uitsaai- sowel as die gedrukte media.

Die voormalige bedryfshoof, Hlaudi Motsoeneng, was in ’n gevorderde stadium van samesprekings met befondsers om bykomende inkomste deur provinsiale regerings en die openbare sektor te verseker, maar die projek is sedert verlede Oktober in gedrang omdat die beplande inkomste nie gerealiseer het nie.

Die volhoubaarheid van die huidige SABC News en Encore-kanale is ook in gedrang.

Ten spyte daarvan is daar nie sprake dat werknemers nie hul salarisse sal ontvang nie. Kaizer maak dié "vals gerugte" af as kwaadwillig.