Suna (32) is aan die begin van die jaar met ’n windbuks in die gesig geskiet nadat sy by ’n Lindense restaurant ’n wegneemete gekoop het, maar sy is nie ernstig beseer nie.

Sy was ook een van die agt SAUK-joernaliste wat afgedank is nadat hulle beswaar gemaak het teen die voormalige bedryfshoof Hlaudi Motsoeneng se beleid dat beeldmateriaal van gewelddadige protesaksie nie uitgesaai mag word nie. Sewe van die agt is heraangestel.

In ’n verklaring wat haar familie op Twitter uitgereik het, sê hulle sy het agt jaar gelede as vervaardiger by RSG se aktuele sake begin. Sy was van die begin af passievol oor internasionale nuus en aktuele sake.

“Gedurende haar tyd as vervaardiger was sy by Gift of the Givers betrokke en was sy op verskeie humanitêre sendings in die oorloggeteisterde Libië, Gaza, Egipte en Sirië.

“Sy het soveel omgegee oor die situasie in Sirië dat sy verlof geneem het pas nadat die oorlog begin het om van die voorste linies af vir RSG verslag te doen,” sê Foeta.

Die afgelope jaar was Suna se hoofdoel om ’n onafhanklike nuuskantoor te vestig wat vry is van redaksionele inmenging van binne die openbare uitsaaier.

Foeta het haar beskryf as een van die mees toegewyde en passievolste joernaliste met wie hy ooit saamgewerk het. Selfs toe dokters haar aangeraai het om ’n minder stresvolle werkomgewing te vind, het sy glo gesê sy kan dit eers doen wanneer die “geveg gewen” is.

Suna word oorleef deur haar ouers, Phillip en Christa Venter, en broer en suster, Wilhelm en Tessa.
 

Twitter se reaksie