Suna (32), ’n senior vervaardiger by die SAUK en een van die sogenaamde SAUK-agt, se lyk is Donderdag 29 Junie in haar woonstel in Fairland gevind.

Haar dood het gekom nadat sy drie maande gelede met die harttoestand, streskardiomiopatie, ook bekend as "gebrokehart-sindroom" gediagnoseer is.

Die toestand word glo deur trauma en lang periodes van onnatuurlike stres veroorsaak.

Ds. Theunis de Ridder het Sondag die diens waargeneem. Hy het aan Huisgenoot gesê Suna se ouers, dr. Philip Venter en haar ma, Christia het nie kans gesien om die diens dae na hul geliefde dogter se dood by te woon nie.

Die dominee het die diens begin deur ’n groot wit kers ter nagedagtenis van Suna aan te steek en die gemeente het opgestaan om ’n minuut van stilte vir haar te hou.

Plek-plek het van die ouer vroulike gemeentelede gehuil. Daar was vermoedelik weens die skoolvakansie minder mense as gewoonlik. Voor in die kerk was ’n beskeie bossie blomme.

Theunis het agterna aan Huisgenoot vertel dit was verlede Sondag die kerk, wat gewoonlik ’n Afrikaanse oggendiens en ’n Sotho-diens in die middag hou, se eerste aanddiens.

Suna wat hom die aand bygestaan het, het versoek hy moet die diens met die Skotse sangeres en liedjieskrywer Emeli Sandé se lied, Abide with me, afsluit, wat lui: 

Abide with me; fast falls the eventide;
The darkness deepens; Lord with me abide.
When other helpers fail and comforts flee,
Help of the helpless, O abide with me.
Hold Thou Thy cross before my closing eyes;
Shine through the gloom and point me to the skies.
Heaven's morning breaks, and earth's vain shadows flee;
In life, in death, O Lord, abide with me.

Dit was egter nie verlede Sondag moontlik weens tegniese probleme om die lied te speel nie. “Suna het op nommer 99 gevra ek moet asseblief die diens met daardie lied afsluit en ek kon nie die wifi aan die gang kry nie...”

Hy het toe in plaas van die gewone seënwense die diens Sondag daarmee in haar afwesigheid afgesluit.

Suna se lewe het die afgelope jaar met baie spanning gepaard gegaan, sy is onder meer in die gesig met ’n windbuks geskiet, daar is by haar woonstel ingebreek en met haar motor se remme gepeuter. 

Rapport het Sondag berig sy het nie Woensdag en Donderdag by die werk opgedaag nie en Foeta Krige, uitvoerende vervaardiger by RSG het haar ouers, dr. Philip Venter en ma, Christa, bekommerd gekontak. Dit word vermoed Suna is reeds Dinsdagnag dood.  

Theunis het uit Petrus 5 vers 7 gepreek wat lui: Werp al julle bekommernisse op hom, want hy sorg vir julle.

Aan die einde van die diens het Theunis aan die gemeente gesê Suna sal komende Dinsdag om 11:00 gegroet word.

Sy word ook oorleef deur haar broer en suster, Wilhelm en Tessa. 

Luister die lied hier: