Bathabile Dlamini, minister van maatskaplike ontwikkeling, is saam met die maatskaplike sekerheidsagentskap (Sassa) en ander amptenare betrokke by Suid-Afrika se toelae-uitbetalingskrisis is Woensdag in die konstitusionele hof behoorlik voor stok gekry. ’n Gefrustreerde hoofregter Mogoeng Mogoeng het naderhand gesê hy kon nie begryp waarom die minister en Sassa nie kan verduidelik hoe hulle in dié krisis beland het nie.  

Toe adv. Andrew Breitenbach, die minister en die agentskap se regsverteenwoordiger, byvoorbeeld opmerk Sassa se aanspraak in 2015 dat hulle die uitbetaling van maatskaplike toelae aan sowat 17 miljoen ontvangers kon oorneem was “oorambisieus”, het Mogoeng dit betreur dat Sassa kon terugdeins van “iets wat sy kernbesigheid is”.   Die menseregteorganisasie Black Sash vra die land se hoogste hof in ’n dringende aansoek om ’n toesigrol te speel oor ’n moontlike tussentydse ooreenkoms tussen Sassa en Cash Paymaster Services (CPS) waarvolgens dié privaat maatskappy steeds toelae namens die agentskap sal betaal wanneer hul huidige hoogs omstrede kontrak oor twee weke verstryk.   Die organisasie Freedom Under The Law vra as tweede applikant eweneens dat die hof toelae en begunstigdes in enige sodanige tussentydse ooreenkoms moet help beskerm. Corruption Watch en die SA Poskantoor (wat meen hulle kan die uitbetalings behartig) is ook by die saak betrokke.  

Black Sash het verklaar hulle was genoodsaak om die aansoek in te dien voor “nog ’n onmededingende kontrak met CPS gesluit word”.

Die konstitusionele hof het Sassa se huidige CPS-kontrak drie jaar gelede ongeldig verklaar weens destydse tenderonreëlmatighede. Sassa is wel eers kans gegee om ander maatreëls in te stel. Toe hulle in 2015 steeds nie ’n ander diensverskaffer kon kry nie, is die ongeldigverklaring tot einde vandeesmaand uitgestel.

Dlamini en Sassa wil die konstitusionele hof oorreed dat ’n tussentydse kontrak met CPS tans die enigste oplossing is om te verseker dat toelae wel op 1 April betaal word en dat die nuwe openbare beskermer en ouditeur-generaal eerder ’n toesigrol moet vervul.

Die grondwetkenner prof. Pierre de Vos het van sy indrukke oor gister se hofverrigtinge so opgesom:

  • Min. Dlamini het reeds in Mei verlede jaar ’n regsmening ingewin, en prokureurs het haar aangeraai om die konstitusionele hof te nader [oor Sassa se uitbetalings-uitdagings], maar sy het dit nie gedoen nie.
  • Sy het geen verduideliking verskaf hiervoor of waarom sy nie haar werk gedoen het nie.
  • Sy kon ook nie verduidelik waarom sy glo eers teen November te wete gekom het dat Sassa nie die toelae sou kon uitbetaal nie . . .
  • . . . of waarom sy deurgaans geen vrae gevra het om uit te vind wat Sassa doen of nie doen nie. [Sassa erken in hofstukke dat hulle al teen April 2016 geweet het hulle sou nie in staat wees om die betalingsproses by CPS oor te neem nie].

Die uitvoerende gesag het hier misluk en die parlement het in sy toesigrol misluk, het adv. Geoff Budlender, Black Sash se regsverteenwoordiger, gister aan Mogoeng gesê.

Regter Mbuyiseli Madlanga het gesê ’n minister met maatskaplike toelaes as haar hoofverantwoordelikheid is veronderstel om altyd op die hoogte te wees.

Regter Johan Froneman het gesê Dlamini het nou die kans gehad om haar kant te verduidelik, maar het nie.

Die gevolge kring uit

Die internasionale finansiële nuusnetwerk Bloomberg se ontleding van die hele saak was: “Die fiasko is die jongste in ’n reeks foute deur die Zuma-administrasie wat ekonomiese groei gekniehalter, beleggersvertroue geskaad en konflik tussen staatsamptenare en departemente aangeblaas het.”

Volgens Pierre is dit noodsaaklik dat die Sassa-krisis op so ’n manier opgelos word dat dit nie die 17 miljoen toelaagontvangers – baie van hulle bejaardes en kinders – se bestaan bedreig nie. Maar die kwessie is ook van groot betekenis omdat dit die mag toets van die regbank wanneer dit deur politieke vergrype gekonfronteer word.

Die howe is versigtig om die politieke gesag van die staat trompop te loop. Maar in bepaalde omstandighede, soos nou, kan die konstitusionele hof meer verloor deur ’n konfrontasie te probeer vermy.

“Pleks daarvan, kan dit eerder meer geloofwaardigheid verkry as dit die minister en Sassa se straffelose gedrag die hoof kan bied en eindelik kan verseker dat toelaes op ’n wetlik geldige manier uitbetaal word,” meen Pierre.

Andries du Toit, direkteur van die Instituut vir Armoede, Grond en Landboustudies aan die Universiteit van Wes-Kaapland, reken die Sassa-dispuut skep veel wyer risiko’s as die onderbreking van armes se toegang tot ’n broodnodige toelae.

Sassa se gesloer het ’n krisis geskep wat dreig om toelaagontvangers aan soms gewetenlose finansiëlediensverskaffers uit te lewer. “Die ontwrigting van betalings sal groot lyding vir die kwesbaarste Suid-Afrikaners teweegbring en waarskynlik maatskaplike onrus veroorsaak.”

Maar andersyds is “miljoene toelaagontvangers nie net van ’n Sassa-rekening voorsien nie; hul rekening is ook gekoppel aan EasyPay Everywhere, wat deur MoneyLine en CPS se bankvennoot Grindrod bedryf word.

Dis alles deel van ’n tweeledige strategie deur Net1 [wat CPS besit]; ’n eerste golf waarin tegnologiese infrastruktuur uitgerol word, en ’n tweede golf waarin dit hierdie infrastruktuur gebruik om ’n groot reeks produkte en dienste aan ’n wesenlik gevange kliëntebasis te bemark.

Die gevolg is dat die ontvangers van maatskaplike toelaes nou vas is in ’n web van afhanklikheid van finansiëlediensverskaffers wat deur Net1 beheer word.”

Du Toit reken armes moet wel ook toegang tot bankdienste hê en dat hulle by slimkaarte en elektroniese dienste kan baat, maar dan moet dié dienste so ontwerp wees dat dit in hul beste belang is. Ongebreidelde “finansiële inklusiwiteit” vir armes kan neerkom op insluiting by ’n sektor wat gerat is om hulle uit te buit. Black Sash het juis byvoorbeeld kommerwekkende bewyse versamel van onwettige, ongemagtigde aftrekkings van rekeninge wat vir toelaagontvangers opgestel is, maan Du Toit.

Twitter se reaksie

               

Ekstra bronne: blacksash.org.za, theconversation.com, Twitter, Facebook, news24.com, netwerk24.com