Pleks van by die skool wees en die jaar klaarmaak, het die seun wat glo ’n onderwyser by die Hoërskool Sasolburg geskiet het gister vir ’n tweede keer in die hof verskyn.

Sedert die skietvoorval is dié 15-jarige seun nog nie weer terug skool toe nie, sê sy prokureur, Grant van Bochove. Die verdagte kan ook nie in Gauteng, waar hy nou by sy pa bly, skool toe gaan nie omdat Gauteng en die Vrystaat se kurrikulums verskil. Boonop wil sy ou skool nie hê hy moet daar kom eksamen skryf nie.

Grant sê die seun se ouers hoop nou die departement van onderwys gaan hulle help met ’n oplossing dat hy ten minste vanjaar nog eksamen kan skryf.

Tydens gister se hofverskyning is die saak uitgestel vir verdere ondersoek. Die staat soek ook verslae van maatskaplike werkers om te bepaal of die verdagte kon onderskei tussen reg en verkeerd toe die sneller afgegaan het. Johan Jordaan, ’n onderwyser by die skool, is in die kuit getref toe die skoot afgevuur is.

Howard Ndaba van die Vrystaatse departement van onderwys sê hulle is nog besig met ’n ondersoek na wat presies die oggend van 20 September by die skool gebeur het. “Die departement is steeds besig met die ondersoek na bewerings dat die seun geboelie is,” sê Howard.

Die seun het vroeër aan Huisgenoot gesê hy is 18 maande lank elke dag voor, ná en tydens periodes deur drie ander leerders geboelie.

Intussen sê Grant dit gaan baie goed met die seun vandat hy nie meer in die skool is nie en by sy pa bly. “Dit gaan baie beter met hom. Hy is sommer meer spraaksaam,” sê Grant. Die seun moet in Desember weer in die hof verskyn.

*Die seun se naam kan nie genoem word nie omdat hy nog minderjarig is.

Deur Hilda Fourie