Sarah Theron is terug met ‘n splinternuwe album. Sy gesels met Huisgenoot oor die nuwe CD en verduidelik die tong-in-die-kies-titel.

Wanneer sal die nuwe CD beskikbaar wees?

STORM in ‘n D-Cup word op 2 Julie vrygestel tydens die Saterdagaand-konsert by Innibos!! Ek is verskriklik opgewonde.

Ek kan letterlik nie meer wag om hierdie songs vir die mense te sing nie. Vir eers sal my CD op Leserskring se Julie/September-katalogus beskikbaar wees, asook per posbestelling op mywebtuiste.

Vertel ons meer van die titel van die nuwe album, STORM in ‘n D-Cup.

In Julie sal ek presies twee dekades as vryskut- musikant, akteur en sanger vier. Tyd vlieg as jy jouself geniet, soos hulle sê.

Die titel STORM in ‘n D-Cup (ook die titelsnit van die album), verwys na die innerlike en soms meer tasbare krag wat daar in ons elkeen lê.

Die gevoel is een van self-bemagtiging en aansporing, noem dit kwaad stook as jy wil!

Die D-Cup is natuurlik ook ‘n aanduiding van rondings en kurwes – waarvan ek oorgenoeg het. My boodskap aan vroue in my gehoor is altyd om jouself te vier.

Hoeveel liedjies sal op die CD wees?

Die album bevat 12 snitte en bestaan uit Afrikaanse volkswysies om aan jou hartsnare te pluk, stuitige tong-in-die-kies Country-Blues, Kragballades en ‘n heerlike Country-duet saam met my gunstelingsanger, Manie Jackson.

Wat is jou gunsteling liedjie op die nuwe CD?

Dis altyd moeilik om een uit te sonder. Ek is lief vir elke liedjie wat ek al ooit gesing het en nog sal sing. Musiek is my passie en medisyne. Ek laat die witbroodjie-kies aan die luisteraar oor.

Hoe lank het jy aan hierdie projek gewerk?

Ek werk al so ‘n jaar lank aan dié een. Ek is iemand wat lank met idees rondloop voor ek tot aksie oorgaan. Dit was  ‘n organiese proses vir my, maar nou is die wiel sovinnig aan die rol, dat ek skaars kan byhou.

Ek werk saam met net die beste musikante en myvervaardiger, Murray Lubbe, het my droom laat waar word toe hy die projek aanvaar het.