kykNET het na die afloop van Dinsdagaand se finale episode van die eerste seisoen aangekondig dat ’n tweede seisoen beslis volgende jaar uitgesaai sal word.

Volgens Anneke Villet, die reeks se toesighoudende vervaardiger, was die eerste seisoen vir kykers ’n “roerende ervaring”.

“Die universele temas van liefde, opoffering, verlies, skande en leuens het gespreek tot 'n breë spektrum van kykers - oud en jonk. Die tweede seisoen sal selfs meer geheime en onthullings na vore bring,” sê Anneke.

Sy sê kykers kan nog drama en intriges te wagte wees.

“Sara se grootste geheim dreig om eindelik aan die lig te kom, Johan en Nicola se huwelik is op die spel, Maggie se stryd is nog ver van verby en die saak teen die Astonia-verkragters gaan hof toe," verklap sy.

Sara se geheim vertel die verhaal van twee families, oënskynlik wêrelde van mekaar verwyder, maar wat eintlik deur een leuen verweef is.

Roberta Durrant, vervaardiger van Penguin Films, het bevestig dat die skrywers reeds besig is om aan die nuwe tekste te skaaf. Die verfilming van die opvolgseisoen sal na verwagting in Oktober begin.

Kykers kon die program se lof skaars genoeg besing.

“Sara Se Geheim was ’n afspraak elke Dinsdagaand. Kan nie wag vir die tweede seisoen nie,” het ene Yolandi Prins op kykNET se Facebook-blad laat hoor.



Intussen sal Die Boekklub van Dinsdagaand af om 20:00 op kykNET te sien wees.