Op die dag van sy troue het hy glo met Clarishka gepraat en gesê “hy weet nie of hy die regte besluit geneem het nie, want hy is bang hy verloor Chanelle. Hy het ’n grap gemaak en gesê ek moet hom ontvoer”.

Clarishka en Chanelle ken mekaar al van gr. 3 af en hulle het met Christopher vriende geraak nadat hy en sy familie die OK Grocer in Port Elizabeth gekoop het. Chanelle het toe reeds daar gewerk.

Christopher, Sinethemba Nenembe en Zolani Sibeko word aangekla van sameswering, ontvoering, roof en die eindelike moord op Jayde in April verlede jaar. Christopher pleit onskuldig.

Clarishka sê Chanelle en Christopher het baie na aan mekaar geraak en hoe dieper die verhouding geraak het, hoe duurder die geskenke. Van die geskenke het ingesluit verskeie Polo-handsakke, ’n horlosie en ’n GHD-haartang.

Lees ook: Só het Jayde Panayiotou gesterf

Die hof het gehoor die prys van Polo-handsakke kan by ongeveer R1 000 begin en die horlosie wat hy gekoop het, het sowat R2 000 gekos. Christopher het soms vir Clarishka gevra vir geskenk-idees en daar was tye dat sy die geskenke namens hom moes gaan koop.

Clarishka het in die verlede saam met Chanelle by Jayde en Christopher se huis gaan kuier wanneer Jayde nie daar was nie. By een geleentheid het sy vir hulle wegneemetes gevat en op ’n ander keer het Christopher vir hulle gebraai. Chanelle sou dan daar oorslaap. Clarishka, Chanelle en Christopher het almal op 29 September George toe gegaan vir Chanelle se verjaardag. Hulle het twee aande daar oorgebly. Clarishka het in haar eie kamer geslaap en Chanelle en Christopher in ’n ander. Clarishka sê sy is ook bewus van ’n keer toe Chanelle en Christopher in ’n hotel in Summerstrand in PE oorgebly het. Hulle was lief vir mekaar en Christopher het dit ook aan haar bevestig. Clarishka het ook foto’s van Chanelle en Christopher saam in die bed op haar foon gehad wat Chanelle vir haar gestuur het.

Hy was met tye baie jaloers op Chanelle. Hy het op ’n keer by haar Facebook-profiel ingegaan en kwaad geraak omdat sy met ander ouens gesels het.

Christopher se kop het net gehang terwyl hy na die getuienis geluister het. Chanelle het glo vir Christopher as haar metgesel na haar suster, Cindy Coutts, se troue toe geneem.

Clarishka het ook in die hof vertel sy en Chanelle het soms vir Christopher gaan kuier by die Infinity Cocktail Bar wat hy besit het, maar dat Jayde nooit daar was nie.

Lees ook: Jayde Panayiotou se suster: ‘Christopher moet vir ewig weggesluit word’

Die drie het gereeld gesels en dit is ook bewys deur die telefoonrekord wat deur die staatsaanklaer, Marius Stander, aan die hof gewys is. Oproepe is tussen Chanelle, Clarishka, Christopher, die OK Grocer en Christopher se landlyn gemaak.

Marius het uitgelig Clarishka het heelwat meer oproepe na Christopher gemaak as na Chanelle toe. Clarishka het hierop gereageer deur te sê Christopher het haar gereeld gebel wanneer hy en Chanelle vasgesit het. Sy het net na hom geluister aangesien daar nie veel was wat sy kon doen nie.

Volgens Clarishka was Chanelle baie depressief toe Christopher die huis vir hom en Jayde in Lovemore Heights koop.

Vyf dae nadat Jayde verdwyn het, het Clarishka na die OK Grocer toe gegaan om met Chanelle te gesels. Sy was glo “uitge-freak” omdat sy heeltyd by die polisie was en Clarishka het huis toe gegaan en al die foto’s van Chanelle en Christopher op haar foon uitgewis.