Die pad, wat bekend is vir sy moeilike graad, verbind Underberg met okhotlong.

KwaZulu-Natal se LUR vir vervoer, Willies Mchunu, het gesê die teer van die pad gaan handelsverhoudinge tussen Suid-Afrika en Lesotho verbeter.

“Veilige en wettige beweging van mense tussen die twee lande gaan ook ons ekonomiese bande help versterk, gedeelde geleenthede aanhelp en volhoubare, wedersyds voordelige ontwikkeling vir albei lande verseker,” het hy gesê.

Die aankondiging volg op ’n uitgerekte opposisieveldtog deur toeroperateurs en lede van die Underberg-gemeenskap.

Daar was onmin onder omgewingsgroepe oor die voordele van die projek.

Die Wild-en-omgewingsvereniging van Suid-Afrika (Wessa) was een van die groepe wat dit teengestaan het, terwyl Ezemvelo KZN-Natuurlewe ten gunste van die projek was.

“Vanuit ’n omgewingsperspektief maak dit ekonomies sin om die pad op te gradeer na ’n teerpad; grondpaaie benodig elke twee jaar onderhoud. Om dit nie te teer nie, gaan eintlik ’n negatiewe impak op die omliggende area hê,” het Willies gesê.

Die toeroperateur Russel Suchet het gesê: “Ons is bitterlik teleurgesteld.”

Hy was deel van ’n bewuste poging om die boonste deel van die pas ongeteer te hou.

Hy het gesê die trekkrag van die pas was dat dit ’n grondpad was.

Toe die voorstel geopper was om die pas te teer, het baie inwoners dit teengestaan.

Die departement van omgewingsake het die opgradering van die pad goedgekeur mits die laaste 5 km van die pas ongeteer bly.

Willies het gesê die totale koste van die opgradering van die 19 km lange stuk pad (van die Old Good Hope Trading Post tot by die toppunt van die pas) gaan R887 miljoen kos.

- Sapa