Oeps, daar bots die Kaapse sangpaar Wynand en Cheree toe met die gereg! Darem nie regtig nie.

Die twee was Dinsdagmiddag met hul toerbus in die hoofstraat van Beaufort-Wes oppad, toe ‘n polisiemotor uit ‘n parkeerplek teen hulle vasgery het.

Die stamp was boonop aan die kant van die bussie waar hul baba Taylor-Hope gelê het.

Gelukkig was dit net ‘n ligte botsing, maar ma en pa het hulle boeglam geskrik. Wynand se eerste woorde aan die polisieman was: “Hier is ‘n baba in die bussie.” En Cheree sê haar hart het sommer woes begin klop.

Afgesien van die skade aan die bussie se deur en die groot skrik is die hele gesin gelukkig ongedeerd.